Heelwat is die naweek gesê oor premier Helen Zille se besluit om pres. Zuma se private woning by Nkandla te besoek.
Die redes om haar besoek teen te staan kom neer op een ding: Dis 'n skending van die president se privaatheid.
Die meeste partye wat die naweek kapsie gemaak het teen haar planne om Nkandla te besoek, het die kwessie van privaatheid as verskoning gebruik. Só het die ANC byvoorbeeld direk gesê Zille "skend Zuma se privaatheid" deur sy privaat woning te besoek.
Die SAKP het op sy beurt gesê die besoek is deel van 'n "regse agenda", en het basies probeer om die optrede as rassisties uit te beeld.
Ek aanvaar die reg van elke mens tot privaatheid – niemand wil hê ander mense moet sonder uitnodiging op jou voorstoep opdaag nie. Dis bloot ongeskik.
Maar ek dink tog ons het hier te doen met 'n unieke situasie. Hoewel Zuma se woning vir hom 'n private ontvlugtingsplek bied, is dit nie net hy wat daarin 'n belang het nie. Elke liewe belastingbetaler in Suid-Afrika het 'n belang in wat by Nkandla gebeur, want ons het die rekening betaal vir wat daar gebeur.
En dié rekening was nie net 'n paar honderd duisend rand nie, maar 'n paar honderd miljoen. Dus het elke landsburger 'n reuse-belang in wat by Nkandla gedoen is.
As pres. Zuma hom wil beroep op sy reg tot privaatheid, moet hy sy eie private ontwikkeling betaal aan sy eie private eiendom. Soos die saak op die oomblik staan is sy woning in Nkandla lankal nie meer 'n private een nie, maar 'n publieke een. Dis betaal met openbare fondse, en wanneer my geld gebruik word om iets te bou, het ek 'n belang daarby.
Dus is die argument van privaatheid 'n totaal ongeldige een.
Vir my is dit egter glad nie die hoof-probleem nie. Die grootste probleem is die volgende: Hoe kan Zuma en die regering hoegenaamd die besteding by Nkandla regverdig teen die agtergrond van die land se sosiale en ekonomiese omstandighede?
Wanneer jy dit in dié lig sien, besef jy Nkandla is 'n klap in die gesig van elke armoedige Suid-Afrikaner.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.