Net klippe en skote!
deur André
2010-03-08 12:53
Ek raak Saterdag 27 Februarie vroeg die oggend na drie wakker en so kom sit en tik ek toe hier voor die rekenaar.
Die rekenaar-goed staan mos in die sitkamer bo aan die voorkant van die huis. Net na vier hoor ek heelparty geweldige slae hier vlak by my teen die skuifdeure en dag ek die goete spat enige oomblik uit mekaar. Skoon vergeet die goed is van veiligheidsglas. Die ene stokstyf sit ek, my kop is leeg en registreer daar niks. Net nog die slae in my ore.
Ek het nog nie ordentlik begin skrik nie, ek dink ek was dalk te geskok en deur die wind om onmiddelik te skrik, maar klap hier terselfdertyd skote ook by my. Ek is geskok en verbaas dat ek hoor nie glas breek of disintegreer nie en kyk ek na die gordyne wat voor die skuifdeure hier 'n meter van my af hang in ongeloof. Ek voel ook niks aan my lyf dat ek getref is nie en sien niks bloed nie. Ek kyk weer en waaragtig, daar is niks, my lyf is oukei. Ek kyk na die rekenaar, is die nie dalk getref dat dit ontplof het nie? Niks!
So spring ek op en storm bo na die portaal toe waar die een noodknoppie van die alarm sit. Ek skree vir Kate daar waar sy nog in die hoofslaapkamer slaap, om ook die noodknoppie te druk. Een moerse commotion. Sy kom uit die kamer deur die wind gehaas, nog aan die slaap en het nie 'n idee van wat gebeur het nie. Ek beduie weer sy moet noodknoppie druk.
Sy vlieg weer om met hartslae wat uit die borskas wil klim en druk die knoppie. Sy is so geskok, sy druk nie net die knoppie nie, nee, sy hou sommer die knoppie in soos mens 'n voordeur klokkie lui as mens dringend die huiseienaar soek. Wat gaan aan? Wil sy geskok weet. En ek beduie-skree van nog die skrik in my. Weet nie of iemand al die huis ingekom het nie. So is ek éérs gestres en verward. Het dit werklik gebeur, want sy het nie eens die lawaai wat 'n stad behoort wakker te maak gehoor nie!
Die telefoon lui en is dit die sekuriteitsmense wat wil weet wat aangaan. So beduie ek dit skiet hier buite voor by die huis, mense probeer inbreek, hulle moet manne stuur. Nou wag ons toe vir die sekuriteits ouens. Terwyl ons wag, is ek heen en weer in die huis. Skakel al wat lig in die huis is aan. Deur die wind en die bliksem in.
'n Klomp jaar gelede is ek deur 'n inbreker in die huis aan die pols gebyt en het die wond by die tien maande gevat om te genees. Sy tande het die hoofaar met 'n millimeter gemis. Was net bloed waar jy kyk. Sit ek nog met daai yslike merk aan die linkerpols en gaan dit deur my kop "net nie weer nie!"
Ek maak weer 'n draai in die sitkamer om net weer seker te maak dat die rekenaar nie getref is nie, dat die glas van die skuifdeure wel nog heel is. Ek kan nie glo wat ek ervaar het nie. Dat niks stukkend of getref is nie. Dit voel soos 'n nare droom. Ek sien toe nog ek is in my slaapbroek en gaan trek ek gou 'n kortbroek en hemp aan.
Nie lank daarna nie kom vier ouens van die sekuriteitsfirma hier met bakkies aan. Ek maak vir een oop na hy geklop het en hy beduie het wie hulle is. Ek vertel hom wat gebeur het en vra hy hoeveel skote. Ek beduie vier, maar wonder ek toe na die tyd of dit wel vier was, want die is die laaste ding waaraan mens dink as jy skote hier teen jou ore hoor. Dit het in alle geval vir my soos vier geklink, as ek moes raai. Ek vergeet skoon om hom van die klippe te vertel.
So is die ouens toe hier in die straat rond en lig met hul flitse en kyk in van die erwe. Een ou hier oorkant, wie 'n woonstel aan die voorkant van die huis huur, beduie dat hy ook die skote gehoor het en toe hy uitkom en loer, het hy 'n kar gesien wat afgeskakel was en wat stadig in die pad af beweeg het en om die draai onder in die pad verdwyn het. Ek is toe eers gestres en dink ek dis 'n mal wêreld waarin ons is. Wie sal nou met 'n kar in die pad af sluip daai tyd van die oggend en skote skiet hier reg voor by die huis? Die ouens buite het vir seker die lig binne die huis sien brand en kon my daar sien sit.
Ek beduie toe nogal ook vir die een ou van die sekuriteit dat die buurman hier langs ons twee honde het, maar hulle is nie met 'n oog te sien nie, en 'n mens hoor niks. Hy het nog vir 'n tydjie hier rondgekyk en beduie toe dat hier is iets nie reg nie, glad nie reg nie en toe is hy hier weg na hy beduie het dat hulle so pas 'n roep gekry het van iemand so 'n paar strate verder af wie se huis se ruite met klippe stukkend gegooi is.
Nou, na hy toe so ewe beduie het dat hier is "iets nie reg nie, glad nie reg nie," dink mens nou dat ek die wêreld se gemoedsrus het dat als nou veilig en reg is?
Ek is toe die huis in en maak Kate vir ons koffie. Die is natuurlik ook wawyd wakker en sit en lees sy verder in die woonkamer. Ek gaan lê nou maar na ons koffie gedrink het, al weet ek slaap is mos nou uit, maar gaan my gedagtes net maar weer oor die gebeure. Nou wonder ek toe nou of mens die patroondoppies as dit lig geraak het hier in die pad sal kan sien.
Na ses staan ek op en gaan maak weer vir my koffie. Kate sit en lees toe nog. Ek gaan maak die skuifdeure hier bo aan die voorkant van die huis oop waar die drama hom afgespeel het en jou waaragtag sien ek lê daar twee rivierklippe op die balkon voor die eetkamer se skuifdeur, met nog ene voor die sitkamer se skuifdeur. Ons het ook van die kleiner rivierklippe in die voortuin, maar kan mens duidelik sien hierdie wat gegooi is, kom van elders.
Ek bel toe die sekuriteitsmense en beduie van die klippe wat ook gegooi was. Die vertel my toe dat hulle was mos hier na my oproep vroeg die oggend en het hulle vasgestel dat dit die polisie was wat agter booswigte wie op die loer vir inbreek aan was en is dit die polisie wat op hulle geskiet het hier by die huis. Die polisie het die booswigte blykbaar toe tot in 'n spruit 'n ent hiervandaan gejaag tot waar die polisie hulle verloor het. Wat ook al gebeur het sal mens vir seker nie weet nie. Dalk was dit die polisie wat met hul kar daai tyd van die oggend agter booswigte aan rondgesluip en geskiet het, dalk was dit nie.
Ek beduie toe vir Kate na 'n volgende koppie koffie dat ons in die middel van die Wilde Weste sit, nee ons sit in die middel van Wilde Suid-Afrika. Die polisie skiet sommer hier teen jou huis.
Oukei, hulle sal nie weet of daai booswigte gewapen was nie, maar nog steeds.
Nou ja, ses klippe en vier skote verder en ek leef te minste om die storie te kan vertel en kan ek nie beskryf hoe ek daardie oggend se ontbyt waardeer en geniet het nie. Dit was seker die lekkerste in 'n my lewe.
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.