Miljoene in die water
deur Hannes
2010-03-11 07:59
Dis asof daar die laaste paar weke 'n stortvloed stories is oor die manier waarop openbare geld om elke hoek en draai uitgegee word, wat my net laat wonder – wanneer gaan iemand iets doen aan hierdie vermorsing?
En dis duidelik dat dit, na misdaad, sekerlik die grootste probleem in ons land is.
Dis ongelooflik om te hoor watter enorme bedrae geld vermors word op allerhande konferensies, funksies, partytjies, en oorsese reise wat 99% van die gevalle heeltemal onnodig is.
Ek is partykeer verstom om te lees hoe geld links en regs spandeer word, sonder dat daar aan enigiemand verantwoording gedoen hoef te word.
En dan wonder ek, wat van al die onnodige uitgawes waarvan ons nooit eers sal lees nie?
Dink net hoe anders sou ons land gelyk het as die R75 miljoen wat deur die departement van vervoer gemors is, gebruik is om behuising te verskaf.
Dink net hoe ons land sou gelyk het as die honderde miljoene (letterlik) wat in die laaste paar maande spandeer is op motors en ander geriewe vir ministers aan ons hospitale gespandeer is.
Dink net hoeveel beter sou ons land gelyk het as die miljoene wat elke jaar op luukse konferensiegeriewe (vir doellose praatsessies waarvan daar niks kom nie) eerder spandeer was om arm kinders 'n opvoeding te gee?
Ek raak woedend as ek sien hoe die mense wat veronderstel is om die openbare belang te beskerm, ons gewone burgers se geld gebruik om hulle eie lewens soos sprokiesverhale te laat lyk.
Vir maande al belowe die regering daar gaan iets gedoen word om besteding te monitor. Wanneer gaan daar uiteindelik iets van kom?
Ons soek aksie.
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.