Soveel mense dra daagliks hulle unieke selfgesette maskers. Elkeen se masker lyk anders, want elke masker is geset om ‘n sekere emosie weg te steek.
Hartseer, verdriet, vernedering, verbode geluk, ongelukkigheid in ‘n spesifieke situasie. ‘n Onaanvaarbare verlede, ‘n onaanvaarbare hede, ‘n onaanvaarbare toekoms.
En die maskers is nie net oor ons emosies getrek nie... Ons hele menswees is mooi netjies gemasker.
Vir ‘n vrou... (90% van ons vrouens is skuldig hieraan, ek inkluis). Vat ‘n simpel ding soos haarkleur! Ons haarkleur is net nie goed genoeg nie. Blond moet bruin. Bruin moet blond. Donkerder of ligter strepies moet die donker of blond beklemtoon.
Of eenvoudig, dis net nie die regte “tipe” blond of bruin nie. Asblond moet golden blond word. Bruin moet koperbruin word. Swart moet pluim swart word...
Hoeveel vrouens ken ons vandag wat hulle eie natuurlike haarkleur dra? Om die waarheid te sê, ek ken eerlik waar net een vrou...
So begin ons van jongs af ons maskers dra. Dit begin by haarkleur. Dan grimering. Dan stywe broekies en push-up bra’s...
En so sirkel dit groter en groter uit.
Tot ons eendag tot stilstand kom en besef die persoon wat ek in die spieel sien is nie die ware ek nie. Nie meer fisies nie. Nie meer emosioneel nie. En jy begin wonder, waar presies het ek myself begin be-masker?
Was dit die eerste keer toe jy nie mooi genoeg was nie? Was dit toe jy nie goed genoeg was nie? Toe jy nie lief genoeg gehad het nie? Toe jy te veel lief gehad het? Toe jy te veel omgegee het?
Of...
Was dit toe jy begin grimering en haarkleur gebruik het? Toe jy begin het om iets te wees ter wille van iets of iemand anders? Toe jy begin “aanpas” het ter wille van die vrede? Toe jy ‘n people pleaser begin word het? Toe ander mense en hul voorkeure en afkeure belangriker as jou eie geword het?
En ons is ALMAL people pleasers ons verskil net in maat.
Nou is my vraag...
Ons wil altyd meer hê, ‘n beter werk, beter huwelik, beter als... Hoekom?
Is die werk of huwelik waarin jy tans is nie dalk wat jou toekom nie? Is dit nie miskien die beste wat daar vir jou uitgesit is nie?
Maar ons is net nooit tevrede!
- Hierdie is een van Lolla se jongste blogs.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.