‘Maatskappye steur hulle nie aan verbruikerswet’
deur Louise Robinson
2012-01-31 13:00
Ek is ’n vrou wat elke dag 140 km moet aflê werk toe. Ons (ek en my man) het ‘n tweedehandse motor besit wat ons probleme gegee het en toe maar oë toegeknyp en ’n nuwe een gekoop.
Ons het ’n motor op 15 September 2011 by ‘n maatskappy gekoop. Die motor het ons twee weke later ontvang, omdat die voertuig vir ‘n sogenaamde “service check” uit die mark getrek is. Die motor het binne twee weke foutiewe ratte gehad wat nie wou wissel nie, daar was vibrasies en nog ses ander probleme.
Die motor is in waar dit drie weke in die werkswinkel gestaan het (niemand het ons gebel met terug nie, ons moes self navrae doen ). Ons het die motor weer ontvang en binne twee weke het dieselfde probleme weer opgeduik, onder andere die foutiewe ratte.
Die hoofmaatskappy is deur ons gekontak en hulle kon eers ’n afspraak vir 3 Januarie 2012 (twee maande later) kry. Die motor is daardie middag gereed om opgetel te word nadat hulle ons laat weet het dat ‘n taxi ons motor gestamp het. Hulle (die bestuurders) het aan my gesê dat dit nie die eerste keer is wat so iets gebeur nie.
Hulle weier om die koste te dra aangesien die kar daar op eie risiko was. Die motor het hulle in die straat geparkeer, so streng gesproke was dit nie op hulle perseel gewees nie en die motor was onder hulle toesig. Ons dring toe aan op ’n nuwe voertuig of ons geld terug aangesien dit die tweede keer was wat die motor moes ingaan vir dieselfde probleme.
Die hoofmaatskappy sê toe hulle neem nie gestampte voertuie terug nie en ons moet die kostes betaal van die motor se herstelwerk. Na weke se baklei oor en weer stem hulle toe in om die motor op hulle onkostes reg te maak, maar weier steeds om ’n nuwe voertuig aan ons te besorg.
Ons het op 26 Januarie 2012 gebel om te hoor hoe ver hulle met die motor is. Die motor staan nog netso, sonder enige herstelwerk. Ek ry al amper ’n maand met ’n leenmotor.
Waarom is daar ’n verbruikerswet as sommige maatskappye hulle nie daaraan steur nie en hoeveel mense moes hulle motors op hulle eie onkostes regmaak vir motors wat onnodig gestamp was? Is dit regtig al so belaglik dat mens moet dreig om hof toe te gaan?
GESELS SAAM: Het jy al 'n soortgelyke ondervinding gehad? Vertel ons by terugvoer@nuus24.com.
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.