Die Curriebeker kry hierdie week sy nuwe staanplek in Suid-Afrika in die wêreld se oudste huishoudelike rugbykompetisie. Waar dit gaan staan wil nie ek of van my skryf-kollegas, om verskeie redes nie sommer waag nie.
Kom ons haak vas by een.
Daar’s ‘n tyd vir als het die Prediker gesê en hierdie tyd het vir die Goue Leeus aangebreek deur verlede naweek-soos die Blou Bulle (maar nie op dieselfde wyse nie)-te struikel op pad na die kroon toe. Tog het die ou-ou argument wel ‘n reuse invloed in die verloorspanne gehad; ja, ek verwys na die fluitjieblasers.
Vir die hoeveelste naweek is die uitslag van wedstryde grootliks bepaal deur die invloed van skeidsregters-op die veld, langs die veld en in die TV “kyk weer” losie?
Toegegee, afrigters hamer dit by kapteins en spelers in dat, wat ookal op die veld gebeur, die span op hul eie wedstryd moet fokus en nie by die bysake betrokke moet raak nie. Ek verstout my om te sê dat selfs die magtige All Blacks by tye geskud word deur die invloed van die beslissings en waarnemings (of nie) van die skeidsregters. Dis dus makilker gesê as gedaan. Ek kan ook onthou hoe spanbestuurders al gedurende Super-wedstryde by mekaar gekla het oor die een aspek wat skeidsregters se geloofwaardigheid bepaal al dan nie- konsekwentheid.
My vraag dus hier aan die einde van die Curriebeker-toernooi is, hoe moeilik is dit vir ‘n intelligente, opgeleide, afgerigte professionele man of vrou om konstantheid in die toepassing van die reëls te handhaaf.
Hierdie seisoen het ek male sonder tal gehoor hoe eenvoudig die spel is en hoe maklik dit is om die spel te speel, veral by die ghoere van skeidsregtersake in ons land, André Watson. Hy vergelyk homself graag met die eenvoudigheid van ‘n opgeleide ingenieur en verduidelik dan die reëls, post-mortem soos ‘n gesoute skoolmeester, selfs dat joernaliste dit kan verstaan.
As als dan so eenvoudig is, waarom braak ons gal na die tyd?
Is ons onregverdig by die vertolking en beoordeling van skeidsregters se beslissings?
Is daar volgens die mening van die blasers en hul baas dan ‘n geval van die salm wat rivier-op swem, terwyl almal andersom doen?
Kyk ons anders na rugby?
Hoe gebeur dit dan dat ons naweek na naweek gesoute afrigters en oud-spelers hoor wat dieselfde deuntjie sing- asseblief meneer, neem jou beslissing op sterkte van jou interpretasie van hierdie eenvoudige spel, maar wees dan net konstant in die beslissing.
‘n Baie billike vraag wat die week opgegaan het, hou verband met die gemors wat tans plaasvind by afbreekpunte en veral skrums. Die vraag is ook dan met reg gevra, wat weet die skeidsregter werklik van voorryspel af? Te veel van ons huidige top-skeidsregters was laas in Graad 2 in ‘n skrum. Net soos die dinamika van agterspeler spel verander het, het die tegniese aspekte van skrum-en lynstaanwerk dinamies verander. Dit kos iemand wat daar was om te weet hoe die reëls en die praktyk by mekaar uitkom.
‘n Wedstryd of twee gelede blaas ons top-man, Jonathan Kaplan die Vrystaatse Cheetahs morsdood in die wedstryd teen WP, oor belaglike aspekte in die skrum wat geen effek op die verloop van die spel hoef te hê nie. Verlede naweek kan Mark Lawrence homself skaars inhou om soveel beheer in die Bulle/ Sharks wedstryd oor te neem, dat ek Dewald Potgieter as kaptein begin jammerkry het.
In die Leeus/ WP- wedstryd, maak Marius Jonker en Johann Meeuwesen so ‘n boe-boe van ‘n kardinale beslissing wat uiteindelik tot ‘n naelskraapse oorwinning oor die kampioene lei.
Hierdie is maar twee voorbeelde van onlangse gevalle waar beslissings deur skeidsregters in wedstryde, tot reuse frustrasie van spelers, afrigters en die ondersteuners gelei het. Dit is al gesê dat die skeidsregter wegloop met ‘n paar swak beslissings, maar die verloorspan daarenteen die slegste daarvan af is - soms tot onherstelbare effek van hul kampioenskapskanse.
André Watson en sy makkers sal hul posisies tot die dood toe verdedig, maar die feit is dat ‘n reeks onkonsekwente beslissings nooit ongedaan gemaak kan word nie. Wedstryde word nie oorgespeel omdat skeidsregters onkonsekwent is nie.
Ek hoop dus dat meneer Watson en sy bestuurspan hierdie naweek die regte besluit geneem het, naamlik om vir Jaco Peyper geleentheid te gee om geskiedenis te maak in die Sharks/ WP Curriebeker-finaal.
Miskien is dit een van die redes waarom goeie skeidsregters so skaars is, want die menslike natuur is maar wankelrig en bly onkonsekwent.
- Hierdie is een van blogger Tussenvierlyne se jongste blogs.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.