As mense oor God praat dan sit ek altyd regop. Want ek wil leer. En wat ek al geleer het in die lewe is dat die dinge wat mense oor God sê, heel dikwels meer oor hulself as oor God spreek.
Die ‘nuutste’ is nou dat God eintlik onkenbaar is. Ek sê ‘nuutste’ in ‘aanhalingstekens’ omdat dit eintlik geen nuwe ding is dat daar mense is wat gaan en sê dat God eintlik ‘onkenbaar’ is nie. Dit is so oud soos die berge. Ek lees in boeke dat mense al voor die tyd van die Romeinse Ryk, dat daar al mense was wat gesê het dat God is eintlik onkenbaar. Dat jy eintlik nie oor God kan artikuleer in mensetaal nie.
So is daar nou hierdie teoloog, ene prof. Theuns Dreyer. Volgens hierdie prof. Dreyer kan mens “oor God en oor Jesus se opstanding uit die dood eintlik net in analogiese en metaforiese taal praat”. Volgens die professor is dit so dat “as ’n mens oor God praat, probeer jy eintlik iets sê wat eintlik onsêbaar is. Daarom gebruik mense woorde, simbole en beelde wat hulle ken om na analogie daarvan iets oor God te probeer sê”.
Ek moet sê ek is aan die een kant baie verras deur hierdie uitsprake van die teoloog, maar aan die ander kant is ek ook geensins meer verras nie. Dit voel vir my daar is min dinge wat daar nóg oor die dinge van die Here gesê kan word wat my sal verras.
’n Mens lees in koerante dat die kerke besig is om leeg te loop. Maar as ek dinge soos hierdie lees, dan is dit vir my eintlik geen verrassing nie. Want die kerke is besig om mens te verwar. Net die anderdag het ek nog my geloof verklaar soos wat die Hervormers ook hulle geloof gereeld verklaar. En die detail van wat ons glo is baie spesifiek. Dit praat van dinge soos die ‘drie-enige-God’, wat ‘gebore is uit die maagd Maria’, ‘die opstanding uit die dood’ en ‘die vergewing van sondes’.
En nou kom hierdie dominee en sê dat “Die opstanding is egter ’n geloofsuitspraak oor ’n groter werklikheid as wat mense met die sintuie kan waarneem en met wetenskaplike metodes kan ondersoek”.
En dat mens eintlik nét in metafoor oor God kan praat. Dat die mens, uiteindelik, nie regtig daartoe in staat is om enige iets oor God te ‘weet’ nie.
En nou weet ek régtig nie meer so mooi nie.
Hier in ’n ander ou boek sien ek ’n ander interessante ding. Volgens die skrywer Karen Armstrong is die woorde ‘Ek is wat ek is’, wat in die Bybel verskyn, ook maar ’n ander manier om te sê dat God uiteindelik onkenbaar is. En so is dit in die Bybel. Op party plekke in die Bybel leer jy vir God ken as iemand wat middagete saam met mense eet. Op ander plekke in die Bybel sien jy weer nee, God is nie regtig kenbaar vir die mens nie. Ons kyk “deur ’n spieël in ’n raaisel”.
Maar selfs al sê die Býbel dat ons nie dinge lekker verstaan nie, is ons as mense tog so gou om te sê nee dié een is reg en dáái een is minder reg en daai een is verkeerd en op pad na die warm plek.
Ek dink dis hierdie dinge wat veroorsaak dat ek mense op die radio hoor wat sing “Is Jesus op die freeway? Ry Hy saam met ons vanaand?”
Hierdie is ’n uittreksel uit Barend se blog.
GESELS SAAM: Stem jy saam met die skrywer? Dink jy die kerk verwar mense? Stuur jou mening na terugvoer@nuus24.com.
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.