Vrydag het die geagte minister van sport, Fikile Mabula, vir die soveelste keer ‘n eiertjie gelê oor transformasie in sport, met die klem op transformasie in rugby.
Aanvanklik het ek dit maar geignoreer, want teen die tyd is ek al gewoond aan die ontydige en onsinnige uitlatings van hierdie knap minister oor transformasie – dis mos ‘n kwessie van baie gedoen aan niks.
Lyk vir my die minster, en ander ANC-ministers verval van tyd tot tyd in ‘n diepe slaap en wanneer hulle wakker word is hulle soos ‘n waghond wat aan die slaap gevang is deur sy eienaar – uit pure verleentheid moet die arme onskuldige duiwe op die grasperk dit ontgeld.
In die onderhawige geval is dit transformasie, en veral transformasie in rugby, want ons weet natuurlik wie die onskuldige duiwe in rugby is. Snaaks genoeg dat sokker nooit genoem word nie!
Toe kom Saterdag. Ek was uitstedig en nie naby enige televisie om die Springbokke se wedstryd te kyk nie. Ek het my so ietsie voor vyf in my motor gaan tuismaak en lank gesukkel om RSG op te vang, maar einde te laaste wel, baie gekrapperig maar tog luisterbaar.
Vyfuur toe kom ‘n baie slim aankondiger aan die woord en vertel met groot smaak dat "vanweë faktore buite die beheer van RSG sal hulle nie die wedstryd kan uitsaai nie." Geen rede is verstrek nie en dadelik het dit my aan geagte pres. Zuma se pogings om sensuur in te stel, of dan in die geval, inligting op ‘n moet-weet basis te verstrek, laat dink.
Ek was oppad om uit te klim en te gaan drink toe die slim mannetjie verder te velde trek teen diegene wat teen transformasie in rugby is (ons weet ook wie so teen transformasie is, die vetkatte wat jare lank geskep het.) So asof die rede waarom RSG nie die wedstryd kon uitsaai nie die skuld van diegene is wat teen transformasie is.
Om ‘n lang storie kort te maak – ek is een van diegene wat teen transformasie is, is nie skaam om dit te sê nie – maar gekwalifiseerd – ek is hewig gekant teen transformasie soos wat dit tans gesanik en toegepas word. Die rede is dat transformasie, nie net in sport nie, maar in alle sfere sonder plan of nadenke toegepas word en dat die eintlike doel is om diegene wat al die jare bevoordeel was, by te kom.
So, geagte minister, ander ANC-ministers en die geagte radio-omroeper van Saterdag, ek sal transformasie ondersteun sodra daar ‘n weldeurdagte plan is wat duidelik gaan uitstip hoe om te verseker dat die beste persoon nog steeds in aanmerking sal kom en dus die span op meriete sal haal.
Soos wat julle transformasie raas en blaas sal die Drienasies-rugbytoernooi een van die dae tussen die Springbokke, Namibië en Zimbabwe gespeel word. Gaan kyk maar na die powere internasionale rekord van Bafana Bafana – die enigste span (sport soort) wat nooit oor transformasie geroskam word nie!
So spaar julle asem oor ontydige en onnodige uitsprake oor transformasie – sorg eers dat julle weet wat transformasie werklik is en hoe om dit te bereik – sit eerder julle geld waar julle mond is en nie julle voet nie!
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.