Ek lees gereeld die kommentaar onderaan nuusberigte (hoewel ek nie self deelneem nie), en ek moet sê, ek het nie veel hoop vir ons Afrikaanse kommentators nie.
Die kommentaar is meestal in die vorm van persoonlike beledigings, aanmerkings oor ander bevolkingsgroepe en die oor-en-weer slinger van beskuldigings.
Ek rapporteer soms van hierdie kommentaar, maar wanneer dit verwyder word is die volgende persoon reeds besig om gif te spoeg.
Dit pla my dat ons so geword het – veral ons as Afrikaners.
Kom ons wees maar eerlik, en erken kommentaar op die internet is wêreldwyd 'n groot probleem. As jy al ooit op YouTube was, sal jy weet die geleentheid om vryelik kommentaar te kan lewer onder 'n ander naam, bring baie keer die lelikste in mense uit.
Maar dis vir my asof ons as Afrikaners nog meer daarmee sukkel. Amper elke kommentaar is venynig of afbrekend.
Ek wens regtig ons kon beskaafde, diep gesprekke oor hierdie belangrike sake hê, maar dis asof my mede-lesers net nie die vermoë het om bo hierdie moddergooiery uit te styg nie.
Is dit net omdat ons naamloos op ons frustrasies kan reageer? Sou dit nie baie meer sinvol wees om ernstig oor hierdie goed te praat sonder om net die heeltyd te probeer om ander uit te lok nie?
Ek sien byvoorbeeld baie mense wat op Facebook 'n groot bohaai maak wanneer iemand in 'n koerant soos die Sowetan iets oor Afrikaners sê (dan word ons mos aangeval). Maar hierdie einste Afrikaners sê elke dag veel erger goed oor ander mense op hierdie blaaie.
Wat moet ons doen om meer intelligente gesprekke te hê? Hoe kan ons dit opbouend maak?
Ek moet sê, ek het nie veel hoop in hierdie opsig nie.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.