Die naweek se moles in die Zamdela-township in Sasolburg is net weer 'n bewys dat ons besig is om 'n nie-volhoubare kultuur van geweld te kweek.
Wanneer 'n mens terugkyk oor die laaste paar weke – net sedert die begin van die jaar – skok dit jou eintlik.
Eerstens was daar die plaaswerkerstaking, waarin duisende mense op 'n gewelddadige manier 'n hele provinsie se produksie tot stilstand gebring en miljoene rander se skade aangerig het. Talle mense is ook beseer, en party selfs dood.
Net daarna (terwyl dit eintlik afgespeel het), het Amplats aangekondig dat hy 14 000 werkers gaan moet afdank. Almal weet dat verlede jaar se stakings (ook gewelddadig) 'n groot rol gespeel het in dié besluit.
Dan is daar die naweek se gemors in Sasolburg – 'n hele gemeenskap wat op horings geneem word, en sowat 90 mense in hegtenis vir openbare geweld. Miljoene rande se skade, en winkels geplunder.
In die meeste lande sal soveel gewelddadige gevalle in 'n hele jaar te veel wees. Almal weet jy kan nie produktief wees en genoeg geld maak om aan te gaan as dit is hoe sake loop nie.
In Suid-Afrika het dit egter alles net in die eerste paar weke van die jaar gebeur. Die maand is nog nie eers naastenby verby nie!
Dit vat nie veel insig om te sien wat hier gebeur nie: Ons het 'n heeltemal onvolhoubare kultuur van gewelddadige protesaksie in die land geskep. Dis nou besig om sterker en sterker na vore te tree. En dis heeltemal onvolhoubaar. Ondernemings kan nie net voortgaan om miljoene en miljoene rande te verloor nie.
Iewers gaan iets of iemand moet ingee. En dit gaan tien teen een nie die oproermakers wees nie.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.