Dis die moeite werd om die voorsitter van Gold Fields, Mamphela Ramphele, se uitlatings oor die toestand van mynwese in Suid-Afrika van nader te bekyk.
Ek dink sy het 'n paar noemenswaardige stellings oor die toekoms van die bedryf gemaak toe sy by die Mynbou-indaba in Kaapstad gepraat het.
Eerstens het sy gewaarsku dat ons nooit so seker kan wees dat daar nie weer 'n Marikana sal wees nie (nadat sommige ministers glo gesê het dit sal nooit weer gebeur nie). Ramphele het gewaarsku dat dit nie wys is om so te sê nie, want dis maklik om daardie soort gebeurtenis te onderskat, en om uit voeling te raak met hoe mense voel.
In die opsig dink ek regtig sy is wys. Ramphele het 'n soort "versigtigheid" wat nie veel van ons leiers meer het nie – sy besef duidelik dat die mynwerkers se sosio-ekonomiese omstandighede hulle dryf om in opstand te kom. En as hulle omstandighede nie verander nie, is dit net redelik om die moontlikheid te oorweeg dat sulke gewelddadige stakings weer sal plaasvind.
Sy het ook 'n ander belangrike punt aangeraak, naamlik dat die huidige manier van mynbou nie so kan voortgaan nie. Hier slaan sy weereens raak. Die gaping tussen ryk en arm in veral die mynbedryf roep ten hemele – 'n mens kan nie so 'n gaping tussen ryk en arm hê en steeds verwag daar moet vrede heers nie. Iewers gaan mynbase meer van hulle winste moet inboet om hulle werkers meer te gee.
Natuurlik sê ek nie ons moet nou een of ander radikale stelsel van nasionalisering (of soortgelyke benadering) volg nie. Al wat ek probeer sê is dat die gaping tussen ryk en arm in veral die mynboubedryf heeltemal te groot is (vergelyk dit byvoorbeeld met die mynwese in Australië, en jy sal sien wat ek bedoel).
Dis 'n baie eenvoudige sommetjie: Wanneer 'n klein groepie mense baie geld maak, en 'n groot groep leef in armoede, sál daar een of ander tyd 'n sosiale krisis ontstaan. Dis 'n baie eenvoudige konsep, en as ons dink ons gaan dit op een of ander manier omseil deur aan te hou soos ons tans doen, maak ons 'n groot fout.
Ten minste lyk dit of Ramphele dié waarheid duidelik besef.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.