Die werker word gestraf
deur André
2010-03-03 07:48
Ek lees in ‘n koerant twee briewe wat geskryf is volgende op ‘n rubriek van 25 Februarie dat wittmense oukei is. Met die aanvanklike lees van die rubriek nou die dag het ek stom gesit.
Ek wou vir die skrywer skryf om te beduie nee, nee, hier op die grond waar ek sit en met mense kommunikeer ervaar diegene wie ook reggestel is en die wie nou in die tye weer in lyn daarvoor kom dit anders.
Ek het so magteloos gevoel, so alleen. Ek wou vir hom begin skryf, maar was my mond droog. Ek het nie woorde gehad nie, net trane.
Geen woord het uit my vingers gekom nie. Dit het net stil oor die klawers gehang, stom.
Lees hy en die draers die tekens (statistieke en realiteite) reg op die grond? In my kop ervaar ek die realiteite wat dit vir my anders beduie.
Dit het deur my kop gegaan en sit ek en wonder toe of die rubriekskrywer net baie positief oor die situasie wou wees en wou moed gee vir die lesers.
Mens wil mos nie aanmekaar net negatief wees en net van die slegte skryf nie. Mens wil mos so graag ook die draer van die goeie nuus wees. Die goeie tyding bring. Die swaarkry is verby. Die struggle is onnodig. Dit gaan sommer nou weer goed met ons.
My realiteit is ook dat ons drie broers is. Twee was in professionele beroepe, waarvan een in die mediese beroep, en ek, wie in die finansiële wêreld in ‘n groot privaat maatskappy gewerk het. Ons al drie is oor die 50 jaar oud. Regstellende aksie het vir my en my broer, wie in die medisyne was, getref.
Dus, twee uit die drie broers sou moes boet vir die verlede. Sou moes boet en gestraf word vir die ongeregtigheid wat ons oor die land gebring het.
Die eerste paar jaar na die regstelaksie was dus twee van die drie broers werkloos en het net oorleef. Vandag verdien ons in werklike geldterme so 30% en minder van wat ons voor die regstel aksie verdien het. So ja, ons is ook oukei, of is ons?
Alles kan nie in geldwaarde gemeet word nie
En ek wil by tye skree, "Dit is nie primêr die geld nie, dit is die minste, nee dit is die ontneming van my eie ek, my menswees, my droom in die lewe dat ek ook iets bereik het om vir andere ter wille te wees!" Kan mense dit nie verstaan nie? Als kan nie altyd in geldwaarde gemeet en uitgedruk word nie.
En dan wil my kop dit nie verwerk oor waarom diegene gestraf moet word wie nie die oorsaak van die onregte van die verlede was nie. Is dit die onreg omdat mense soos ek wit en Afrikaans is? En omdat ek manlik is?
Is die onreg wat ék gepleeg het dat ek myself in 'n "bevoorregte posisie" gesit het en moet ek nou daarvoor gestraf word? Word my velkleur gestraf, of word die onregte van die verlede gestraf?
Word die “instansies” wie vir die "onregmatige" aanstellings verantwoordelik was gestraf? Watter “onregmatige” aanstellings? Word die ou apartheidstelsel gestraf? Nee, die werker word gestraf.
Ook die werker wie eerlik en hard gewerk het en na verdienste die werk en pos beklee het, word gestraf. En dan word daar verwag dat sodanige persoon die regering ter wille moet wees. Dit terwyl die regering en die instansies nie ‘n snars vir hierdie persone omgee nie, net solank hulle aan hul missie voldoen en dit is ook om die regering ter wille te wees.
Hoe vinniger hierdie monster en destruktiewe van 'n regeringsbeleid tot 'n einde kom, hoe vinniger kan mens jou toespits op die positiewe en skouer aan die wiel sit met die regte ingesteldheid deur alle burgers van die land. En ek, is ek nie ook ‘n burger van die land nie?
Ook kan daardie instellings, wie hulle nog steeds laat in boelie en mee doen aan hierdie destruktiewe monster van 'n omgekeerde ongeregtigde regeringsbeleid, nie agter die regering skuil nie. Laat hulle hul ruggraat wys en opstaan vir reg en geregtigheid.
En vandag se blatante vergrype wat ooglopend deur die regering toegelaat en ondersteun word? Die tenderpreneurs? Dit word as heldedade gesien en voorgehou.
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.