'Dié dorp verdien beter'
deur Christo van der Rheede
2012-01-12 07:30
Onlangse berigte oor die konflik tussen sommige lede van Lambertsbaai se sakegemeenskap en plaaslike senior ANC munisipale amptenary en politici is allesbehalwe sensasionele leesstof.
Dit dui eerder op ernstige vertrouensbreuk, wantroue, gebrek aan samewerking en onwilligheid om inhoud te gee aan die waardes van ons Nasionale Grondwet. Gevolglik hou dié stand van sake niks goeds in vir die breë Lambertsbaaise gemeenskap nie.
Indien daar egter by beide partye die bereidwilligheid is om met mekaar in gesprek te tree en met innoverende aksieplanne vorendag te kom wat almal in Lambertsbaai tot voordeel sal strek, kan dit ‘n model van kulturele integrasie, ekonomiese bemagtiging en sosiale netwerking vir menigte ander dorpe in die Wes-Kaap en selfs die res van Suid-Afrika bied waar nog gans te veel "bruin, swart en wit" Suid-Afrikaners sukkel om mekaar te vind.
Die skep van so ‘n model is egter nie ‘n korttermynprojek nie, maar ‘n langtermynprojek waarby die hele gemeenskap betrek word en gemobiliseer word om eienaarskap te neem van die dorp se visie en missie, asook die projekte wat aangepak word.
In ‘n dorp soos Lambertsbaai kan die visie en missie byvoorbeeld in al die amptelike tale van die munisipaliteit op strategiese plekke sigbaar gemaak word om almal voortdurend te herinner aan dit en om hulle te inspireer om deur hul doen en late prakties inhoud daaraan te gee. ‘n Kompetisie kan selfs deur die plaaslike sakesektor- en munisipaliteit aangebied word vir die mees kreatiewe manier waarop rolspelers soos gemeenskapsorganisasies en instellings soos kerke en skole, asook dienspunte soos die plaaslike polisie- en gesondheidsdienste die visie en missie bevorder.
Die grootste uitdaging behels egter die gemeenskaplike dorpsprojekte wat deur die inwoners aangepak word. Dit verg fyn beplanning, goeie bestuur en belyning van vennote met die nodige sektorkundigheid, -ervaring en integriteit met ooreenstemmende projekte.
Vir alle infrastruktuurontwikkeling-, dienslewering- en alle ander verbandhoudende ekonomiese groei- en werkskeppingsprojekte is dit dus vanselfsprekend dat die plaaslike munisipaliteit en sakesektor betrek sal word. Vir alle onderwys- en opleidingsprojekte is dit skole, vakkundiges, die plaaslike beurstrust, onderwysdepartement en VOO-instellings wat die leiding neem. Vir kulturele en ander sosiale en geestelike projekte is dit plaaslike kultuurrade, kerke en NGO’s en vir gesondheids-, omgewingsbewarings- en veiligheidspersoneel, die polisie, omgewingskundiges en mediese personeel.
Al bogenoemde projekte geskied egter nie in isolasie nie, maar gereeld moet daar verslag gedoen en besin word oor intersektorale samewerking en ondersteuning. Verder is dit ook belangrik om die vordering van projekte te meet aan voorafbepaalde prestasiestandaarde en om gepaste stappe in plek te stel om te verseker dat doelwitte bereik word.
Laasgenoemde is daarom die spilpunt waarom die doen en late van alle rolspelers draai en waaraan vooruitgang in die dorp uiteindelik gemeet word.
Onder andere behels dit die volgende: In ekonomiese terme – groei in die plaaslike ekonomie, skep van werksgeleenthede, munisipale dienslewering, ekonomiese bemagtiging en investering in die dorp. In opvoedkundige terme – gehalte onderwys, die deurvloeikoers van leerders en slaagsyfer, algemene geletterd- en syfervaardigheidsvlakke en spesialiskundigheidsontwikkeling. In kulturele terme – die bevordering van inheemse tale en kultuurpraktyke, asook die klassieke kunsvorme.
In sosiale terme – vlakke van integrasie, netwerking, sosiale kohesie, dorpstrots en eenheid. In gesondheidsterme – welstand van plaaslike bevolking, gehalte van mediese dienste. In bewaringsterme – die stand van waterbronne en die ekosisteem, omvang van herwinningsaksies, benutting van son- en windbronne vir elektrisiteit. In veiligheidsterme – afname in misdaad, paraatheid van veiligheidsdienste en dienslewering.
Die Lambertsbaaiers, insluitend elke ander dorp in Suid-Afrika, hou dus self die sleutel van vooruitgang in hul hande en is as sulks die argitekte van hul eie toekoms.
‘n Helder toekoms wink mits daar ‘n paar kopskuiwe kom by beide partye. Een daarvan is dat die antagonisme tussen lede van Lambertsbaai se sakegemeenskap en plaaslike senior ANC munisipale amptenary en politici net deur hulself en deur sinvolle gespreksvoering bygelê kan word. ‘n Verdere kopskuif is die opgee van die bagasie van die verlede en die vervanging daarvan met die waardes van ons Nasionale Grondwet.
Hierdie waardes plaas ‘n morele verpligting op elke landsburger om weg te doen met die etniese skanse van die verlede en ‘n nie-rassige bestel tot stand te bring. Dit vereis ook van elkeen van ons om die ongelykhede van die verlede reg te stel en ‘n regverdige bestel tot stand te bring. Ook vereis dit van ons om nie ons diversiteit as ‘n bate te benut en ‘n bestel van nasionale eenheid en nasietrots tot stand te bring.
Die belangrikste kopskuif hou egter verband met ingesteldheid. Lambertsbaai en elke ander dorp in ons land bied ongelooflike geleenthede vir almal. Die regte ingesteldheid egter, help ons om dit raak te sien en tot voordeel van ons self en die breë gemeenskap te ontgin. In dié verband kan ons baie leer by die Somaliërs, Chinese en Pakistane wat elke geleentheid aangryp, hetsy dit in die middedorp óf in die township is. Dít, terwyl ons as Suid-Afrikaners soos hond en kat baklei, dikwels oor beuselagtighede. Lambertsbaai en so ook die res van ons land se dorpe en stede verdien egter baie beter, of hoe?
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.