Ek lees met groot belangstelling 'n skrywe deur DocGuru op Nuus24 oor sy visie vir 'n spoguniversiteit wat net die beste studente toelaat en streng prestasiemaatreëls toepas.
Ek moet sê, ek stem saam met baie van die stellings wat gemaak word. Dis inderdaad nodig om die standaarde in ons tersiêre instellings op te hef, en die enigste manier hoe dit gedoen kan word is met 'n streng oog op punte en prestasie.
Wie sal nee sê vir 'n universiteit wat goed bestuur word en aan die hoogste vereistes voldoen? Dis die soort instelling waarheen ek my kinders met graagte sal stuur.
Tog moet ons versigtig wees. Hierdie visie van 'n spoguniversiteit is goed, maar dit los nie die basiese probleem op waarmee ons in Suid-Afrika sit nie.
Die groot probleem in ons land is onderrig van 'n goeie gehalte vir 'n breë basis van die samelewing.
Die enigste manier hoe 'n mens 'n land ophef is deur seker te maak dat soveel as moontlik van sy mense, so goed as moontlik opgevoed word. Daardie beginsel is deur die jare oor en oor bewys.
So die eintlike probleem wat ons wil oplos is nie beter en beter onderwys vir 'n kleiner en kleiner persentasie topstudente nie, maar beter en beter onderwys vir meer en meer studente aan die onderkant van die spektrum.
Daarom dink ek dis meer waardevol om onder te begin as om bo te begin. 'n Mens wil begin by die plekke waar dit die slegste gaan. Fokus daarop om die swakste skole beter te maak, eerder as om die bestes nog beter te maak, sodat dit nog 'n kleiner deel van die samelewing dien.
Ek kritiseer nie DocGuru se plan nie, en dink dit het beslis waarde (ek stem saam met sy idee om 'n tersiêre instelling te skep met uitstekende standaarde). Maar ek dink die bron van ons frustrasie as 'n land lê eerder by die feit dat ons kandidate uit matriek uit stuur wat nie opgewasse is om eers 'n middelmatige universiteitsopleiding deur te maak nie.
Ek dink ons moet onder begin. Laat ons dronk onderwysers wat nie opdaag vir klas nie, en onbevoegte skoolhowe wat hulle skole bestuur soos snoepwinkels, in die pad steek. Laat ons die beste onderwysers oplei en weer 'n sin van roeping by hulle aanwakker. Laat ons die swakste skole uit die stelsel haal en daardie kinders beter geleenthede gee.
Die enigste volhoubare oplossing, en die enigste oplossing wat 'n verskil aan ons breë samelewing gaan maak, is een wat soveel as moontlik mense ophef.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.