Met die staking deur plaaswerkers wat vandag hervat word, is alle oë natuurlik weer op die Wes-Kaap.
Dis 'n hartseer realiteit, maar gewelddadige stakings en betogings het 'n aanvaarde deel van die lewe in Suid-Afrika geword.
Ek is egter meer bekommerd oor die plaaswerkers se staking, en wat vandag gaan gebeur. Hier is die redes waarom ek dink vandag se staking is een van die belangrikste arbeidsdispute in die laaste paar jaar:
1. Die manier waarop plaaswerkers vandag optree, en die manier waarop hulle hanteer word, gaan in alle waarskynlikheid bepaal hoe hierdie stakings die res van die jaar hanteer word. As hulle toegelaat word om alles te ontwrig, gaan stakers die res van die jaar hulle nadoen. As die polisie die presedent stel en hulle vasvat, gaan dit makliker wees om die volgende keer dieselfde op te tree, omdat dit dan is wat die verwagting is.
2. Die res van die wêreld hou dop hoe die jaar hier begin, na al die drama van verlede jaar. As ons die jaar afskop op dieselfde manier wat ons dit geëindig het, is dit net redelik om te verwag dat dit die "nuwe standaard" vir die land is.
3. As hierdie staking gewelddadig is, gaan dit 'n patroon van gewelddadige arbeidsdispute laat ontstaan. Stakers gaan begin voel dat dit die enigste manier is om regtig 'n reaksie te kry.
'n Mens moet maar net eerlik wees – al die polisie en die regering se dreigemente beteken niks nie. Die stakers gaan vandag doen wat hulle wil doen, en klaar.
Ek hoop net dat hulle optrede nie vir ons nog groter probleme skep en 'n nuwe patroon vaslê nie.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.