Dit lyk asof die Jhb-metropolisie ’n nuwe stelsel in plek het om die Aarto-boetes af te lewer.
Ek kry mos nou ’n kennisgewing in my posbus (straataflewering) dat ek my kennisgwing van oortreding by die poskantoor moet gaan afhaal.
Gewapen met my ID-boekie en die kennisgewing stap ek sommer gou poskantoor toe. Daar aangekom, vul ek gou my naam, ID-nommer in en maak nogals so spoggerige handtekening.
Die teller ‘stamp’ die vorm net so ywerig en verdwyn agtertoe om die kennisgewing te gaan haal.
Die volgende oomblik plak hy weer die kennisgewing voor my neer en wys aan my dat ek dit by Johannesburg poskantoor in die middestad moet gaan afhaal.
Nou ja, daar is GEEN manier waarop jy my in Johannesburg se middestad sal kry nie. Ek bly nie daar nie en ek weet ek het ook nie die oortreding daar gepleeg nie.
My vrou was al beroof daar en wat nou gemaak as SY nou ’n ‘kennisgewing’ moet gaan afhaal?
Ek probeer binne die wet leef, maar hier is nou een keer waar ek nou genoeg van JHB Metro gehad het.
Stuur gerus vir my die kennisgewing in die pos selfs al is dit ‘onreelmatig’ en ek betaal dit met graagte, maar daar is GEEN manier waarop ek my veiligheid in gevaar gaan stel vir julle gerief nie.
Die alternatief is om vir my die kennisgewing te oorhandig daar waar en wanneer ek die oortreding pleeg.
Ek verstaan nie hoe die kennisgewing van die kennisgewing ( ja, ek weet dit klink deurmekaar) na my naaste poskantoor gestuur kan word, maar nie die eintlike kennisgewing nie.
Nou wonder ek hoe word mense se boetes afgelewer wat bv. in Alberton of Germiston woon? Of selfs die wat verder weg woon.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.