Baie Bloubul-ondersteuners gaan nou blou sien, maar van waar ander staan, lyk dit asof Heyneke Meyer ander spelers wat op vorm is, goedsmoeds oor die hoof sien deur sy spankeuses...
Daarby blyk dit asof hy 'n voorkeur gee indien die speler(s) wat wel die Bok-span haal, die een of ander verbintenis met die Blou Bulle gehad het.
Waarom het hy Saterdag teen Skotland Heinke van der Merwe ingespan en hier sit ons met manne wat die Curriebeker vir WP help wen het; manne soos Deon Fourie, Frans Malherbe, Brok Harris, Kitshoff en andere.
Jaco Taute het gelyk asof hy net daar was om die span vol te maak! As Meyer probeer het om vir die mense te wys dat Pat Lambie eintlik 'n heelagter is, het hy hom uitstekend van sy taak gekwyt, want Lambie het soos 'n "haai uit water" op losskakel vertoon.
Waarom gebruik hy "huursoldate" wie se lojaliteit teenoor Suid-Afrika lyk asof dit tweede kom na hul finansiële sake; anders, waarom het hulle verkies om in die buiteland verder hul sport/ beroep te gaan beoefen?
Juan de Jongh wat by uitstek "beter" saam met Jean de Villiers sou speel, was weereens gekies om die bank "warm" te hou. Hougaard wat by uitstek 'n skrumskakel is, word op vleuel gekies en Gio Aplon, Raymond Ruhle, selfs Rocco Jansen van die Griekwas kry die koue skouer.
Die losskakel-posisie word blykbaar gereserveer vir Morné Steyn, terwyl Demetri Catrakilis en selfs Riaan Potgieter, Elton Jantjies en andere baie beter vertoon en gespeel het in die Curriebeker-reeks!
As selfs Gwede Mantashe al begin oplet dat daar sekere "voorkeure gegee word" in Meyer se spankeuses, dan moet 'n mens seker ernstig begin wonder oor Heyneke Meyer se aanstelling as nasionale afrigter en waar sy lojaliteit eintlik lê!
GESELS SAAM: Stem jy saam met die skrywer? Hoe voel jy oor Heyneke Meyer se spankeuses tot dusver? Laai jou mening hier of stuur ’n e-pos na terugvoer@nuus24.com.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.