Ver verby die verste sien, ver agter hemelstraat verby strek die hemelruim wyd oor my se kop. Sterre blink en knipoog speels vir die verlepte volmaan van ‘n handvol aande gelede. Ek sit buite en wag geduldig op die genadebelofte van die warmste hemellig wat netnou sy kop gaan uitsteek in die ooste terwyl Poppie se verhaal oor en oor in my se kop afspeel. ‘n Storie wat sy so saam met die dag voor gister se vroegoggend koffie vir my en die Mooiste Mooi kom oorvertel het. ‘n Storie oor die werklikheid van ‘n wrede en ongenaakbare wêreld vol mense wat dorstig smeek na Sy lewegewende vrede en onverdiende genade.
Dit was nog donkerskemer toe sy hulle vuurtjie brand gesteek het, want vandag is betaaldag. Betaaldag waar die Staat weer, soos elke ander maand, kom vernietgeld uitdeel. Genadegeld vir diegene met mediese probleme, vir hulle met klein kindertjies asook vir die werkloses. Almal moet maar vroeg reg wees want niemand weet regtig hoe laat die geldtrok op Noenieput sy staan sal kry. Lusteloos hang die reuk van gebrande houtjies in die lug terwyl klein helder oranje vlammetjies haar swart gebrande kookblik warm lek. Een vir een het die res van die familie wakker geword en ook om die vuurtjie kom sit. Daar is nie veel gepraat nie want elkeen was maar besig met sy se eie binnekant goeters. Haar smeekrede om hierdie maand slim te werk met die meevallertjie val weer op dowe ore want sy weet dat die vernietgeld nes sovele vorige maande tog maar weer in die wynwinkel gemors gaan word. Kort na die sonop koffie is almal die huis uit en so sou Poppie eers lank na sonsak weer van hulle hoor.
Die dorp was die dag vol mense gewees. Daar is gelag, gesels, gekuier, gekoggel en geskinder. Almal vol vrolikheid en vreugde want dis dan al te lekker wanneer jou sak bult met die genadegeld. Skuld word betaal en nuwe skuld word gemaak met broodmeel, koffie en suiker wat op die boek gekoop word. Van die mense paradeer in hulle sabbatsklere terwyl van die jongetjies stilweg spog met hemde met name op, donkerbrille en spierwit skoene. Almal is tog te spoggerig geklee want vandag is poupronkdag. Die meeste mense (ook Poppie se familie) maak ‘n draai by die wynwinkel se groen deur en dan volg ‘n dorstige vergryp aan die inhoud van die rooipropbottel.
So met sonsak was Poppie se moederhart maar vol verlange want sy het die hele dag lank niks van haar familie gesien nie. Terwyl die kommernisse soos ‘n wintersjas styf om haar hang, maak sy in haar alleenheid later daardie aand ‘n vuurtjie om roosterkoeke te braai. Sy het geen idee waar haar man, haar seun of selfs haar dogter is nie. ‘n Rukkie later het sy maar gaan lê maar die slaap was weg, ver weg want haar se hart was vol kommernisse.
Heelwat later, net so voor die slaap finaal sy intrek kom neem, klop haar suster hard aan die huisie se deur en roep haar naam dringend. Al harder en dringender word daar weer geklop en geroep. Verward sit Poppie regop in haar bed en kyk rond. Koud verlate is haar man se plek in die bed en sy wonder waar hy is. “Poppie maak tog gou, Abraham en die spul jongetjies is besig om daai gemors seun van jou in sy onderbroek daar na Adjudant toe te vat. Djy moet tog gou maak. Hulle het hom daar in die anderkanste blou badkamer bo-op ou Katie gevang. Hy het haar amper versmoor soos hy haar probeer verwurg het.” Vol kommer en met ‘n stukkende rou binnevoering spring sy op, gooi ‘n rok oor die kop en storm blindelings na buite.
Net buite die huisie sien en hoor sy hoe haar man al mompelend, slinger-slinger nader strompel en hom disnis oor hulle sekelstert windhond val. Hy wou nog iets sê maar sy dronkenskapval het veroorsaak dat hy nou roerloos lê. Net sy bors, wat in stereo met die spoegblasies op sy lippe beweeg, getuig van lewe. Stadig maar seker spat haar lewe uitmekaar. Haar man lê alweer hulpeloos dronk en haar seun is klaar deur die gemeenskap gebrandmerk as ‘n verkragter van ‘n ouma. “Ag Here, die vernedering, die minagting, die verwerping deur ‘n genadelose gemeenskap en dan kan my man nie eens help nie,” weerklink dit in haar se binneste-binne.
Alleen in die donker kan sy nie nou polisieselle toe nie en op ‘n drafstap begin sy haar dogter soek. Iemand om op te steun moet saam. Eers soek sy hier en dan daar en storm dan moedeloos by ‘n kamerdeur in. Hard weerklink haar rou gil deur die somersnag. Op die harde, koelerige kamervloer lê haar dogter met bloed wat by haar neus en mond met stadige ritme uitborrel. Haar helderkleurige geblomde rompie is hoog oor haar heupe opgetrek sodat haar se vrouwees bloederig en skaamteloos in haar dronkenskap ontbloot is. Versigtig sak Poppie op haar se knieë af en roep saggies haar dogter se naam. Versigtig word haar dogter se gesig in haar hande geneem en soen sy haar op haar se voorkop. En so tussen haar trane deur prewel sy opreg uit haar se binneste-binne “Waarom Here, waarom? Hoekom Here, hoekom beide my kinders? Help tog Vader asseblief, help tog!!!”
Terwyl Poppie so op haar se knieë staan onthou sy skielik weer my gisterwoorde en Vader se genade en hemelse vrede oorspoel haar soos twee groot branders. Haar se gemoed raak kalmer en dan raak sy weggevoer in Sy teenwoordigheid. Sy vee haar souttrane af terwyl Hy dit met Sy se vinger in haar se binneste-binne graveer “My genade was vir vele ander genoeg ... meer as genoeg. En so sal My genade ook vir jou in hierdie hartseer genoeg wees ... meer as genoeg!” Al asof ‘n kosbare kleinood aan haar toevertrou is, help sy haar vernielde, verkragde dogter versigtig op. Sy skuif onder haar dogter se blad in en stap stukkie vir stukkie, tree vir tree die maanligaand in om ook aan haar verkragter seun en dronklap man onverdiende genade te gaan bewys.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.