Ons hoor byna daagliks dat mense vermoor word en dat die skuldiges meestal nog ‘soek’ is.
Ongelukkig is die ‘getuies’ nie in staat om vir hulself te praat nie en die ander hardloop weg vir die gereg. Baie ‘moordenaars’ word nooit opgespoor nie, alhoewel die meeste daarvan toegeskryf kan word aan ons patetiese polisiemag en gemeenskappe wat nie betrokke wil raak nie.
Maar dit het my laat dink.
Ons lees en hoor gereeld van mense wat met die ‘dooies’ kan kommunikeer. Waarom word hierdie aansprake nie getoets in hierdie sake nie?
Dit sal mos baie help as die ondersoekers in die saak bygestaan kan word deur die ‘slagoffers’ wat deur hierdie mediums kan ‘praat’.
As die ‘dooies’ kon praat, sou die moordenaars dalk ook twee keer dink voor hulle moord pleeg. Baie mense word meestal net vermoor omdat die kriminele ‘uitkenning’ probeer vermy.
Vat nou bv. die Oscar-saak. Dink net hoe fantasties dit sou wees as ‘Reeva’ haar eie kant kon stel. Dit sou meebring dat reg en geregtigheid geskied. Dan kan ons ook ophou wonder oor wat gebeur het ens, ens...
As die mediums dan werklik daai ‘talente’ het, gee aan die dooies daardie noodsaaklike stem. Of gee daai talente vir my sodat ek hierdie slagoffers kan help.
Maar ek het so vae spesmaas dat hierdie sogenaamde mediums ’n klug is wat kleingelowige mense slegs vir finansiële gewin uitbuit.
Voel vry om my verkeerd te bewys...
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.