Dis Saterdagoggend net so na vier in die môre en ek kan nie wag nie.
Dis vandag my Argus-fietstoer en ek is vasberade om die ou grotes ‘n ding of twee te wys. Doelgerig staan ek op en gaan deur die dril van stort, korrekte brekfis, die volle wapenrusting en... ek is gereed.
Met vaste tred stap ek na my oefenkamer waar my oefenfiets en trapmeul getrou op my wag. Ja, ek is ‘n fiksheid fanatikus en marathon wedlope en fietstoere is my gunstelinge. En nee, ek gaan nie ‘n stewige voorwedloop oefening insit voor die Argus nie. Ek doen enige marathon of fietstoer sommer reg hier in my oefenkamer.
Kom ek verduidelik...
Ek het moeg geword daarvan om op ‘n verbeeldinglose en sielsdodende trapmeul en oefenfiets die tellers te laat voortrol, die kalorieë te laat afrol en die spiere te laat uitrol en ek was op die punt om die sweet vir oulaas met die handdoek af te vee voordat ek dit sou ingooi, toe kom val die geluksgodin se trokkie was op my voorstoep.
Ek word die trotse eienaar van ‘n Lotto-kaartjie met ‘n waarde van net so duskant die dertien miljoen lieflike Suid-Afrikaanse Bokkoppe! Die mooiste van als was, ek het nie nodig gehad om my kop te breek oor wat ek daarmee sou aanvang nie: My oefenkamer! Of liewer, kom ons begin nou hoogdawerend raak en noem dit ‘n djim!
Ons het dadelik aan die werk gespring. Dis nou ek, die argitek, die bouer en laaste, maar inderdaad die vernaamste, die kombinasie van fiksheidkenner en tegnologiese fundi wat my nuwe fiets en trapmeul sou kom installeer.
Alles moes net eenvoudig ‘state of the art’ wees, soos die Japanner met die Amerikaanse aksent gesê het terwyl hy op sy hande gevryf en die dollar-tekentjies in sy oë geskitter het. Die mees funksionele gebou met dekor wat jou laat voel jy is in die opelug en hoogs aanpasbare lugversorging wat jou neem vanaf die verfrissendste berglug tot in die stad se besoedeling, afhangend van waar jy jou op die oomblik bevind in jou marathon of fietstoer.
Daar is ‘n XXXL 3DHD grootskerm televisie voor elke apparaat wat jou deur oefensessies sowel as die ware Jakob kan vat. Die oefenfiets skakel tussen ‘n kragtige bergfiets en ‘n opreggeteelde snelfiets met die druk van ‘n knoppie en laat jou die lief en die leed, die smart en die sweet van die pad opreg ervaar wat jy gekies het.
Die trapmeul kan elke knikkie, opdraand en afdraand van die Comrades of New York of watter marathon ookal, perfek naboots. As jy nie fiks genoeg is nie, moet jy asseblief tog nie dink dat jou eie masjien jou genadig gaan wees nie. Jy val net eenvoudig uit en dis terug na die oefenbord met jou.
Daar is ook geen manier hoe jy jouself kan ooreis nie. Jou hartklop, asemhaling, kalorieverbranding en hidrasie word fyn gemonitor. Enige rooiligte wat op hierdie skerms flits sal jou onmiddelik aanraai om regstellende aksie te neem en indien jy ongehoorsaam is sal jou masjiene oorskakel na ligter werking of selfs afskakel.
Daarom dat ek vandga so opgewonde is. Ek voel ek is gereed vir die aanslag op die Argus en weet dat ek onder die eerste tien kan eindig. Ek het hard geoefen, gesond geëet en voel verstandelik skerp. Ek het darem so in die eerste honderd weggespring en het alreeds ‘n hele klompie aanspraakmakers wat voor my was, die hakskene gewys.
Op die skerm kan ek sien ek lê nou baie gunstig in die 31ste plek hier rondom die halfpad merk. Hartklop-, asemhaling- en hidrasiemeters lê almal in die groen-geel. Sal nog so ‘n bietjie kat-en-muis speel en dan... wie weet! Miskien kan ek selfs die ‘tien’ afkap van die ‘eerste-tien’ en met die louere wegry. Ek begin drome droom en visioene sien. Maar toe gebeur dit!
Ek het net vir ‘n oomblik agtertoe gekyk toe die ryer teen wie se
agterwiel ek gejaag het swik en val. Daar was geen manier hoe ek hom kon
ontwyk nie.
Die ligte rondom my het uitgedoof en die sirene van
‘n ambulans het verlangs my onderbewussyn gemartel. Ek het eers na ‘n
tyd uit my beswyming gekom en gewonder waar ek was.
Ek was terug in my ou oefenkamer. Die djim het soos ‘n djin verwyn. Die ou waaiertjie het gaan staan en dit was bedompig warm.
Ek het vooroor op die fiets se handvatsels gelê. Moes seker maar ingedut het van die eentonige getrap-trap-trap.
Maar ag nou ja, ‘n mens mag maar seker die kille werklikheid inkleur met ‘n bietjie droom? Of wat praat ek alles!
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.