Ek ken ‘n meisie. Haar naam is Katrien. Jonk, elf-jaar oud, sproetgesiggie en dwergie-oortjies.
Ek en my vrou is al dekades vriende met haar ouers. Sy het sussies ook. Een ouer sussie (Marietjie) – ek het iewers gehoor sy het al begin rook en eksperimenteer met seuns; sy is vyftien! Katrien se jonger sussie (Annie) is skaars agt maande oud – sy was ‘n laatlammetjie.
Omrede ons vriendekring redelik ver van mekaar af bly het ons elke maand darem een keer by mekaar probeer uit kom. Ek en Gawie was vrinne sedert laerskool, ek ken my vrou sedert laerskool en Gawie se vrou ken ons ook al redelik lank. So, ons was ‘n hegte vriende kringetjie.
Hierdie betrokke maand was dit ek en my vroutjie se beurt om die klein “Get-together” te reël. Ek het seker gemaak dat daar genoegsame vleis en wors en houtskool was. My vrou het seker gemaak dat daar genoeg drankies sou wees. Dis mos altyd lekker om langs die vuur te sit en ‘n drankie of twee te geniet.
Ons gaste het soos gewoonlik op skedule gearriveer, en my kole was al klaar reg. Blameer dit maar op my O. C. D. maar ek wil altyd gereed wees. Daar is ook altyd ‘n plan-B.
Hulle het met hulle minibus ingetrek. Mammie en pappie voor en die drie kindertjies agter. Die tafel en stoele was ook soos gewoonlik op dieselfde plek en nadat almal se drankies en ekstra eetgoedjies ingedra was, kon ons almal buite sit. Dit was ‘n mooi dag. Die lug was blou en daar was nie ‘n wolk in sig nie, daar was ook so effense koel windjie.
Ons het gepraat oor allerhande ditjies en datjies. Goeie ou tye op skool en na skool. Werk. Kinders. Rugby, krieket sokker en gholf. Dis altyd lekker as jy en jou vriende op dieselfde golflengte is!
My vrou en Gawie se vrou (Anna) het kombuis toe gegaan en die slaaie begin voorberei. Ek het pas die eerste sarsie vleis op die gloeiende kole gesit. Gawie het gou “kamer verlaat”. My gedagtes kon nie help om te wonder oor hoe perfek ons lewens uit gedraai het nie, ook al was dinge hoe moeilik soms. Dit was perfek (goed genoeg vir ons). Ek hoor van die meisies speel en ek teug lekker aan my biertjie.
Tyd het aangebreek om die vleisies vir die eerste maal om te draai. Waar draai Gawie? Wonder ek vinnig en konsentreer om die speserye presies reg op die vleis te kry.
‘n Goeie vyftien minute het al intussen verby gegaan en die musiek het gestop. Met ‘n vinnige laaste ogie op die vleis hardloop ek in die huis in en ruil die CDs om. Musiek was weer aan die gang, lekker!
Soos ek uit die sitkamer uit gekom het, beweeg Gawie uit die gang uit. Hy het ‘n glimlag op sy gesig gehad. Ek kon nie help nie en vra hom toe:
“So, het jy van my vergeet? Jy het pligte barman!”
“Nee jong, seker maar ‘n maagvirus wat die rondte doen.”
Dit daar gelaat.
Na so vyf minute het ek vir Katrien’tjie gesien uit die sitkamer uit beweeg. Sy het nie haar gewone glimlaggie en sprankelende ogies saamgebring nie. Dit was vreemd want nou-nou was sy haar borrelrige self.
Gawie het gesien dat ek vir Katrien agterna kyk, waarop hy antwoord :
“Jong, sy kan maar dikbek wees, maar straf is straf!”
Dit daar gelaat.
Die res van die laatmiddag en aand was fantasties, soos altyd! Voor ons ons oë kon uitvee was die tyd ongelukkig verby, en hulle moes weer huiswaarts keer. Katrien was nogsteeds “dikbek”
Snaaks, ek dink dit was die laaste keer wat hulle by ons kom kuier het. Ek en my vroutjie dink snaaks genoeg nou net daaraan. Ons het lanklaas van hulle gehoor...
Tien jaar later
Op ‘n dag het ek en vroulief besluit om kruideniersware te gaan koop. In die middel van die winkel loop ons vir Anna raak.
“Sjoe, dis ‘n verrassing!”
“Hi julle, gaan dit goed?”
Sy het nie so mooi gelyk soos altyd nie, om eerlik te wees, sy was slordig aangetrek en het nie eers moeite gedoen om grimmering aan te sit nie. Dit was vreemd, want gewoonlik kon jy haar deur ‘n ring trek!
“Ag ja, jy weet mos, die lewe is ‘n snaakse ding. Op en dan af. Ons wag nou weer om op te gaan.” Sê ek so vriendelik soos altyd.
“Gawie? Kinders seker al mooi groot?”
“Jong, jy wil nie weet nie! Wil ook eintlik nie daaroor praat nie.” Haar gesig het verstar en haar stemtoon het gesak – daar was fout.
Katrien het selfmoord gepleeg drie maande terug.
Ek gooi amper die stootwaentjie om.
“Ja, Gawie het haar verkrag. Gereeld. Marietjie ook.”
Stilte.
“Gawie het verdwyn. Die polisie soek hom – nie dat dit enigsins sal help nie! Die lae luis! Weet julle hoe vind ek uit? Die selfmoordbrief langs haar bed waar sy haar polse afgesny het! So! Sy kon nie eers met my praat nie! As ek net geweet het! Ek het geweet daar was fout, maar dit?” Haar woede was tasbaar.
Stilte.
Nie lank daarna het ons maar ons verskillende rigtings inbeweeg, en ek dink terug na daardie aand by my huis, toe hulle die laaste keer by ons gekuier het. Hoe kon ek nie weet wat aan die gang was nie? Wie sou kon raai dat Gawie, my beste tjom vandat ons pikkies was, so ‘n monster kon wees?
Hoe kan ek nou met myself saamleef. Ek moes geweet het! Ek het ‘n meisie geken. Haar naam was Katrien…
PS. Hierdie storie is fiktief.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.