Met die bekendmaking van die feit dat daar meer lande wat ten gunste van die afskaffing van die doodstraf is, gaan daar nou weer oor die voor- en nadele daarvan bespiegel word.
Vergelyk 'n mens die lande wat wel die doodstraf nog instel se syfers van geweldaddige misdade met die van lande wat dit afgeskaf het, spreek dit boekdele: in lande waar dit wel ingestel is, is dit veel laer teenoor lande wat dit afgeskaf het.
Misdadigers kry 'n soort van "koningslewe" (vry kos en klere, onderdak, roetine, ens.) agter tralies, waar hulle andersins in die "vrye" samelewing moes voor gewerk het. Die families en gesinne moet lewenslank ly onder die trauma en probeer om die tragedie/ verlies te verwerk; baie keer op hul eie onkoste.
Rehabilitasie van kriminele neem maande, selfs jare en geen waarborg kan gegee word dat diesulkes "bekeer" sal bly na vrylating nie; die kanse dat hy/ sy weer sal terugkeer na die "ou wee", bly 'n nare werklikheid. Lyfstraf, of liewer die afskaffing daarvan, het onderwysdepartemente, -instansies, ouers, onderwysers en skole met hul hande in die hare.
"Grootkoppe" het besluit dat lyfstraf 'n euwel verklaar moet word; bloot omdat 'n klompie indiwidue hulself te buite gegaan het met die toediening van lyfstraf. In hul wysheid het hulle agterwee gelaat om alternatiewe daar te stel.
"Sagte-hand"-benaderings werk vir sommige leerders, maar dit is ook 'n lang proses. "Gewoonte-oortreders en belhamels" wat op die manier probeer dissiplineer word, keer gewoonlik weer terug na hul ou maniere/ wyses van "destruktiwiteit" en in meer as een geval word die klasmaats se tyd "gesteel".
Tonne papierwerk, kommunikasie met ouers en ander betrokkenes, verslae en toetse moet op- en saamgestel word, indien daar 'n skoolsielkundige beskikbaar is, nog toetse, evaluerings en helaas plasing by 'n spesiale skool (as die nie alreeds vol is nie).
Dit alles geskied tesame met die onderwyser se primêre plig van onderwys en buite-kurrikulêre aktiwiteite. In gebiede wat sosio-ekonomies agter is, is die dissiplinêre probleem nog groter: leerders wat uit gebroke gesinne en families kom, blootgestel aan mishandeling tuis, dwelm-en drankmisbruik, bendes, ens.
So wat weeg swaarder in 'n land waar misdaad (erge) en dissiplinêre probleme onder die jeug, hoogty vier? Doodstraf vir misdade waar lewens geneem en/of verwoes word en gesinne en families lewenslank met die trauma moet/ probeer saamleef of afskaffing daarvan en misdadigers eintlik nou 'n vryhand kry ("ticket") na 'n lewe sonder sorge agter tralies; "sagte-hand"-benaderings wat heelwat tydrowend is, vir sekere leerders sal werk of die "beproefde" oplossing van 'n "pak-op-sy-tyd" met oorleg, regmatig, en na behore toegedien, as laaste uitweg?
Blykbaar het lande wat bogenoemde strawwe afgeskaf het, doelbewus die Bybel geignoreer; want waar pas "oog vir 'n oog" en "spaar die roede nie", in hul besluitneming om die strawwe af te skaf?
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.