Ek moet bieg dat ek nie die Zuma-advertensie gaan kyk het nie. Die een wat glo onlangs verbied is nog voordat dit op die lug was. Die vis-en-tjips een.
Maar so tyd gelede toe kyk ek toevallig na Loyiso Gola se weeklikse parodie van die nuus. Gola is vir baie mense al ’n instelling, maar ek vang dit net af en toe. En in die betrokke program toe skeer Gola gek met die SABC. En hy maak ’n fiktiewe aflewering van die SABC se nuus. En in die fiktiewe aflewering word president Zuma met so goue ring bo sy kop voorgestel bo in die hoek, en die nuusleser is net vol van die grootste lof vir pres. Zuma. Dit was baie snaaks, en raak, wil dit my lyk.
Soos dinge nou lyk, wil dit my voorkom, mag ons nie eens meer die president se lewende nalatenskap vier in hierdie land nie. Ons moet versigtig wees om enigsins oor die familie te praat. Daar is nou ’n oorsensitiwiteit in die ergste graad. Dit is as’t ware asof bigamie iets moet word wat ons net moet beoefen en nie meer moet bespreek nie. Nie meer aan die groot klok moet hang nie. Watter ander land ter wêreld wil nie juis hê dat hulle leiers se lewens bespreek word nie? Maar dit is Suid-Afrika.
Daar was in Suid-Afrika van lank gelede ook ’n sisteem wat ons veronderstel was om maar net blindweg te aanvaar sonder om enige vrae te vra. Jy het maar net grootgeword dat swartes daar eenkant bly en die Indiërs het hulle eie plek en die dan is daar die kleurlinge se plek en die witmense se plek. Jy vra nie hoekom dit so is nie. Jy bly net in jou eie plek.
Vir my is dit verstommend dat ’n advertensie verbied word nog voordat dit vertoon was en daar enige klagte oor die saak was. Dit stuur ’n duidelike boodskap uit dat die mense van hierdie land nie meer toegelaat gaan word om te sê wat hulle graag wil nie.
Ek het eintlik so lekker gelag vir Gola daai dag. Hy hou ’n skyn weervoorspelling van die SABC en dan word die Wes-Kaap uitgeblok.
Ag nou ja, televisie is heel dikwels beledigend. Daar is hoeveel programme en advertensies wat die gek skeer met bepaalde gelowe/ rasse/ kulture. Dit moet seker lekker wees om sulke spesiale behandeling soos sommige politici in hierdie land te kry.
Maar aan die ander kant moet mens jouself die vraag afvra, is dit die tipe land wat jy sal wil hê? ’n Land waar niemand beledigend teenoor mekaar kan wees nie?
Sover my kennis strek verbied die grondwet nie beledigings nie. Dit is in der waarheid ons reg om mekaar te kan beledig. Want daar is ’n verskil tussen beledig en haatspraak soos ek die saak verstaan.
Ek vir een sal nie in ’n wêreld wil leef waar niemand my mag beledig nie. ’n Mens leer baie uit beledigings en dit is goed dat mense mekaar kan en mag beledig. So lank as wat dit nie haatspraak word nie behoort almal in ’n gesonde demokrasie daardie reg te mag geniet om mekaar te kan beledig. Self het ek al wonderlike dinge geleer van die beledigings wat ek van andere ontvang het in my lewe. Ek het dinge van myself geleer sowel as dinge van die mense om my.
Help my asseblief reg as ek die ding verkeerd verstaan! Ek glo ons mag mekaar beledig. Ek glo dit is ’n reg.
Maar nou ja, wat beteken die reg? Hofuitsprake word dikwels geïgnoreer in Suid-Afrika, of wat praat ek alles.
- Hierdie is een van Barend se jongste blogs.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.