Was militêre diensplig werklik ’n goeie ding?
Baie mans sal nooit hulle militêre diensplig vergeet nie want dit het ’n groot hap uit hulle lewens weggeneem, veral die wat nog twee jaar diensplig gedoen het. Dat dit nodig was om die land te ‘beskerm’ is ook waar.
Gereeld word daar vir ons kinders gesê hulle sou beter uitgedraai het as hulle in die ‘army’ was.
Maar is dit regtig waar?
Ons was geleer die ANC is die vyand, was geleer hoe om die vyand te beveg, hoe om hulle uit te snuffel ens.
Is dit nie waarom sommige mense steeds daardie ideologie koester in hulle onderbewussyn nie? Dalk is dit waarom dit so moeilik is om die ANC as ons regering te aanvaar? Sou ons dit beter aanvaar het as die ANC onder ’n heeltemal ander vaandel regeer het?
Die ANC sal seker altyd by sommiges as terroriste beskou word. Dis verseker ’n obsessie by sekere mense.
Is dit nie ook waarom heelwat mans worstel met hulle onderdrukte emosies wat gereeld ontplof en tot geweldadige uitbarstings lei nie?
Verklaar dit nie ook waarom sekere groepe steeds dink dinge word ‘reg geskiet’ nie en hoekom hulle weer smag na daai ‘oorlog’ situasies nie? En dan praat ons nie eens van die mans wat reken die ‘army’ het hulle in ‘super heros’ omskep wat niks verkeerd kan doen nie en wat altyd beter as iemand anders is...
Die dissipline wat ons geleer is kan nie weg geredeneer word nie en jong mans is geleer om weg van die rokspante van die moeders te floreer. Jy is geleer om jou goed op te pas en meeste manne was trots op daai uniform (sommiges seker ook maar net omdat dit die meisies gelok het).
Maar aan die anderkant was daar die indoktrinering van ons jong mans wat dalk onbewustelik groot letsels gelaat het. Hoe en waar was die sielkundige en sosiale implikasies op daai jong mans bepaal?
Dit is dalk een van die redes waarom baie mans sukkel met aggressie. Aggressie en haat teenoor die vyand is ’n belangrike komponent in oorlogvoering.
Word die waarheid verdoesel agter n ‘macho’ masker? Hoe lank gaan ons die negatiewe deel daarvan bly ontken?
Hoeveel gesinne was of is steeds dalk die slagoffers van hierdie ‘letsels’ jare na die tyd?
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.