November, 1996, na die afloop van my matriekeindeksamen het ek besluit om ‘n tydmasjien te ontwerp en te ontwikkel. Saam met ‘n paar van my maats het ons dit reg gekry!
So nuuskierig soos ons maar was, soos bloedjong manne kon wees, het ons besluit om die eerste rit in die masjien in te programmeer. Die datum waar ons uit gekom het was net so aan die begin van 2012 – amper ‘n hele sestien jaar vorentoe! Ons matriekjaar was so lekker dat ons besluit het om weer matriek te doen…
Wat op ons gewag het was erger as die ergste gruwelfliek!
Daar was geen reëls! Daar was geen dissipline, niks! Aanvanklik was ons verskriklik bang vir die nuwe onnies wat ons sou slaan met die rottang indien hulle sou uitvind ons rook. Ons ergste nagmerrie het waar geword en ons was wel uitgevang…
Die straf: Niks pak slae nie, maar ‘n waarskuwingsbriefie. Ou Riaan, my beste tjom het histeries begin lag en gevra of die hoof ernstig was. Dawid het begin rondsoek vir verskuilde kameras, want, wel, daar was geen tasbare straf nie!
Die duiwels was los.
Ons het gesit en kyk hoe die klasse aangebied word. Ons het gehoor hoe balhorig die kinders was en gesien hoe die skrale ou juffrou’tjie raadop by die klaskamer uithardloop. Na tien minute het sy weer haar verlore asem gevind en haar gesiggie afgewas om weg te steek dat sy gaan huil het.
Die kinders het nie geluister nie en maar aangegaan. Hulle het geen respek vir haar gehad nie, hulle het ook nie gekommer oor om na haar te luister nie.
So nuuskierig soos wat ek was, vra ek die een skepseltjie langs my:
“Wil nou nie snaaks klink nie, maar gaan dit elke dag so?”
“Ja, skool is behoorlik ‘n paartie!”
“Jis, dit lyk so!”
Toe word ek bang.
Ek vra verder :
“Nou as julle so tekere gaan, hoe gaan julle einde van die jaar deurkom?”
“Is jy nou simpel? 30% om deur te kom, dis al wat ek nodig het! Ek hoef nie eers te leer nie! Gaan ook nie! “
“30%?!” sê-vra ek en my twee vriende te gelyk. Dit was dan nie eers die ekwivalent van ons dae se Laergraad nie!
Om eerlik te wees, die vakke wat hier in 2012 aangebied was, was verskriklik. Wiskunde was nie meer wiskunde nie. L.O het heel iets anders beteken. Hierdie goed het glad nie sin gemaak nie!
Ons besluit toe meteens dat ons moes terugvlug na 1996. Terug na normaliteit. Terug na dissipliene! Terug rottangs en houtplanke toe!
Onwetend, en seker omdat ons so haastig was om te vlug uit hierdie gruweltoneel, het ons vergeet om die datum terug te verstel. So, die uiteinde van die saak was dat ons nog sestien jaar in die toekoms in, beland het.
Riaan het homself natgemaak, Dawid het gehuil soos ‘n baba wat tande sny. Ek, ek het myself grys geskrik.
Dit was die jaar 2028. Dis skoolsisteem het nie meer bestaan nie. Daar was nie meer ‘n nut aan skole nie, want inligting het in elk geval rondgesweef op die internet. Hoekom dan nog kinders se tyd onnodiglik mors met leerwerk?
Elke besigheid waarby ons verby geloop het, het miljoene spelfoute gehad op hul vensters. Sommiges was, ek dink, in BBM-taal geskryf.
Daar was ook geen geldeenheid nie. Alles was prentjies op gekleurde note. Hoe die mense geweet het watter noot watter denominasie was, het seker net die mense van hierdie tyd geweet.
Ons het nie terug in die skool beland nie, so ons moes aanwysings vra.
Niemand kon ons verstaan nie toe ons met hulle praat nie. Later het ons maar probeer om neer te skryf waarheen ons wou gaan; maar niemand kon uitmaak wat ons geskryf het nie.
Die wereld was vreemd. Niemand het die nut daarin gesien om te kon lees of spel of tel nie. Dit was ‘n openbaring en ons het gedog die wereld het inderdaad geëindig.
Riaan wou vlug want sy broek was nogsteeds nat. Dawid wou aanbly om die mense te probeer leer. Ek, wel, ek het in my tydmasjien gaan sit en hierdie tik, sodat julle kan sien wat in ‘n paar jaar se tyd in hierdie land gaan gebeur indien daar nie drasties gekyk word na die sogenaamde skoolsisteem nie.
Ek hoop hierdie skrywe bereik 2012 of 2013, en ek hoop julle kan darem verstaan wat ek geskryf het…
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.