Kinders wat nou self die reg in eie hande neem en “afreken” met boelies...
Sjoe, wat 'n sprong agteruit vir Suid-Afrikaners! Die blaam word nou gelê op die ouers, huislike omstandighede, die skool en les bes, onderwysers. In baie of die meeste gevalle kom die boelie met sy ingesteldheid om af te knou en te verkleineer, met reg, vanaf die huis.
Nege uit tien keer is hy/ sy die slagoffer van boelie(s) tuis, hetsy 'n ouer wat die kind mishandel of van die kind se eie gesinslede wat op die outjie neerkom. By die skool gaan die outjie nou probeer om daardie houding op ander kinders (kleiner en jonger) af te dwing.
'n Boelie sal nooit 'n gelyke of iemand groter of sterker as hy/ sy probeer aanvat nie! Dit laat my dink aan die goeie ou dae: Die kind het aan almal "behoort". Die bure en ander gemeenskapslede het almal op een of ander wyse gehelp met die "sosiale" opvoeding van 'n kind.
Wanneer die tannie langsaan jou gevra het om winkel toe te gaan vir haar, het jy nie tweekeer gedink of geaarsel om dit te doen nie; kry jy rusie/ stryery met 'n ander kind in die teenwoordigheid van 'n oom/ tannie, was jy daar en dan op die regte pad gesit; 'n raps, oorveeg of twee of selfs 'n ordentlike pak slae deur die einste oom/ tannie; ongeag wie reg of verkeerd was.
Jy kon dit nie eers waag om te dink om huistoe te hardloop om te gaan kla nie, want nog 'n pakslae sou dan jou voorland wees of bed toe (vroegaand) sonder aandete en om sout in die wonde te vryf, moes jy die ander party in teenwoordigheid van genoemde party se ouers en/ of gesin om verskoning gaan vra, al het jy nie die eskapade begin nie.
Op die platteland was dit die "norm"; selfs as van die volwassenes nie opgetree het volgens die "norme en standaarde" van die gemeenskap nie, was hy/ sy baie gou daarvan verwittig en "betug", gewoonlik deur die "ouer gemeenskapslede”. Dit alles kom neer op respek vir 'n ander en vir sy/ haar eiendom.
Almal was betrokke by die "opvoeding" van die kind, veral buite skoolure. Ons kan met reg sê dat die ouers van vandag het nie die tyd, of soms die geduld, om die kind die waardevolle lewenslesse te leer nie; derhalwe moet hy/ sy maar dit op sy/ haar eie manier aanleer, en dikwels met rampspoedige gevolge!
Klein dingetjies soos aandete om die etenstafel saans, huisgodsdiens, die gesin saam kerk toe, maaltye neem op vasgestelde tye; groet, al is jy nie bekend met die "ouer persoon" nie, staan op en bied jou sitplek aan vir oueres/ meerderes, alledaagse hoflikheid, het bygedra tot die aankweek van maniere en respek in kinders van destyds.
Baie ouers sê vandag met reg dat hulle nie hul kinders grootmaak om te boelie nie, maar dieselfde kind wat nie grootgemaak word om te boelie nie, stap by die deur uit en verander in 'n "tiran", want "Ma en Pa sien my nie nou nie" en geen tannie/ oom langs die pad of wat hom/ haar sal sien, sal dit waag om die kind tereg te wys nie, want Ma en/of Pa sal reguit vir tannie/oom sê: "Bemoei jy jou met jou eie sake; ek maak nie my kind nie so groot nie!"
'n Mens kan dus nie te verbaas wees as jy lees van die Israeliete van ouds wat terug verlang het na die vleispotte van Egipte nie. Ja... die goeie oue dae!
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.