Suid-Afrika het sy eie She’s all that gekry – dis wat deur my kop gegaan het terwyl ek Fanie Fourie’s lobola gesien het.
Wel met klemverskille. Maar dis She’s all that. Ding is. Dis nie tieners hierdie nie. En ‘Fanie Fourie’ is nie presies ‘Zack Siler’ nie. Maar dit was so treffend. Soos in She’s all that, wat ek, tot my skande moet erken, iewers in my prille jeug moes gesien het, is dit in Fanie Fourie’s lobola ook ’n saak van ‘the odd couple’.
En, nes in She’s all that begin die hele ding ook as ’n tipe grap of weddenskap tussen die ‘manne’.
Die gevolg is dus ’n film wat vir my maar bietjie pretensieus is. Dit is vir my maar bietjie baie naby aan ’n Hollywood idee wat tot die uiterste ver-Suid-Afrikaans is. Tot die maksimum. Maar tog, teen die agtergrond van die tipe land waarin ons is, slaag die verhaal tog in ’n sekere sin, sy pretensieuse streep ten spyt.
Dit is ’n romantiese komedie sou ek dit beskryf. Maar die hele idee van waardes speel ’n geweldige groot rol. Dit vra tog – wat is belangrik?
Die hele idee van die huwelik en lobola. Lobola is natuurlik ’n vreemde konsep vir ’n “boertjie” (die naam wat ‘Dinky Magubane’ inderdaad inspan vir haar ‘Fanie’ in hierdie film), maar vir die ‘Afrikaner’ is die huwelik wil ek glo histories amper soortgelyk ‘heilig’ as wat dit vir baie van Suid-Afrika se swart mense is.
Ek vind dit tog vreemd om ’n film wat die rol van die huwelik so prominent op die voorgrond stel te laat rym met, wel, die rymsels van een van ons meer vulgêre Afrikaanse kunstenaars.
Dit is in Fanie Fourie’s lobola ’n geval van ‘mayibuye’ op die beats van Jack Parow...
Waardes, waardes, waardes.
Lobola is steeds ’n relevante onderwerp. Ek weet van families waar die lobola net nooit gebeur het nie. Daar was net nooit die geld nie. En daardie gesinne was dikwels gelukkig. Met goeie kinders. Ja, selfs sonder die huwelik...
(Ja, daar IS ook dikwels sukses en vreugde buite die huwelik!!!)
'Dinky’, gespeel deur die beeldskone Zethu Dlomo, beleef in die film ’n sterk weersin in die praktyk van lobola. Sy voel sy het nie ’n “price tag” nie. Maar haar arme vader is ’n tipiese pa en sedebewaker. Maar sy eie waardes word ook uiteindelik uitgedaag, en dit lei tot ’n totale herskikking – een wat dalk nie altyd totaal realisties is nie, maar darem redelik vermaaklik.
Mensdom, maar Chris Chameleon... wat ’n kunstenaar is die man darem nie. Nee kyk, as ek niks in hierdie film onthou nie, dan sal ek onthou hoe Chris Chameleon net weereens bewys het dat hy die naam ‘verkleurmannetjie’ waardig is. Mensig! In hierdie film sal jy sien hoe Chris ’n Nicholis Louw van homself maak.
Ek is seker dat Chris, sou hy besluit het om ook in die regte lewe dáái tipe koers met sy musiek in te geslaan het, dat hy ook dáárvan ’n reuse sukses sou maak. Gelukkig het hy nie. En, soos mense in Engels sê, love him or hate him, kom ons erken dat hy nou maar net eenmaal briljant is – ’n kunstenaar sonder wie Afrikaans en ja ook Suid-Afrika veel armer sou wees.
As ek nou ’n belangrike filmresensent soos professor Leon Van Nierop was, dan sou ek hierdie film 3 uit 5 gee en nie ’n fraksie meer of minder nie.
- Hierdie is een van Barend se jongste blogs.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.