Kleurling! Bruinmens! Anderskleurige!
Ek en God HAAT die verwysings.
Dis ‘n smet op God se Naam
Dis ‘n smet op my naam
Dis ‘n smet op elkeen wat dit gebruik se naam.
Dieselfde God wat vir Samuel sê:
“Moenie oordeel volgens die uiterlike nie”
roep hartstogtelik daar vanuit die Begin:
“Moenie oordeel volgens die uiterlike nie”
sê in twintig-dertien vir jou:
“Moenie oordeel volgens die uiterlike nie”
Skaam julle!
Sogenaamde kleurling geleerdes!
Professore, doktore, geestelike en sekulêre leiers.
Julle het die wat opkyk na julle in die steek gelaat
deur julle skouers op te trek en jul koppe, verstand en talent
onder die sand begrawe en toegelaat dat die gelate aanvaarding van
die smet-titels julle in blinde kruipmolle omskep!
Skaam julle!
Skaam julle!
Sogenaamde Kleurling, Bruinmens, Anderskleurige Massas.
Julle het teen Apartheid in opstand gekom,
Julle het teen hopelose omstandighede in opstand gekom,
Julle het teen die onregverdige Mammon in opstand gekom,
Maar die wortel van die kwaad, hierdie Drie-enige Draak,
Het julle in geil grond gelos
Om maar ongestoord te groei en te laat bloei en uit te roei!
Skaam julle!
Skaam julle!
Skynheilige wit geverfde grafte!
Julle het jul broers met smet gedoop
en God se gepatenteerde “Afrikaner” titel
en sy bedmaat “Afrikaans” gesteel
en vir julself toegeëien,
die besmettes se spraak gereduseer tot dialekte
en so julself met Apartheid-smet geteer-en-veer.
Skaam julle!
On-boet-vaar-di-ges!
Selfs miljoene voete gewassery
sal hierdie smet nooit uitwis nie!
Daar is net EEN manier!
Julle sal ‘n tweet uit Saggeus se Twitter-bladsy
moet copy en in jul eie bladsy paste
en dit tweet en retweet
tot almal van julle 'Die Boodskap' gekry het:
“... en as ek van iemand iets afgepers het,
gee ek dit vierdubbel terug!”
Moenie met woorde “jammer” nie!
“Jammer” deur te DOEN wat jy en ek en God weet was reg is.
Jy hoef nie Afrikanerskap prys te gee nie,
Maar ons moet hierdie groot erfenis deel –
Verskillende historiese strome wat ineenvloei
Om EEN sterk Afrikanernasie te vorm,
EEN magtige Godsrivier met helende water
Wat in staat sal wees om die smet,
Nie net in Suid Afrika nie,
Maar wêreldwyd uit God se oordeel uit te wis!
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.