Daar is sekerlik baie negatiewes in die Marikana-skietery, maar daar is darem een ligpuntjie in die donker verhaal wat deur die ondersoek na vore kom. Om die waarheid te sê, dis meer as net ‘n ligpuntjie: Dis ‘n helder kollig wat op die inheemse bygelowe en sogenaamde “toordery” val.
Stop jy by ‘n verkeerslig, dan word daar vele kere ‘n strooibiljet (met die klem op die strooi!) in jou hand gestop wat die deugde en die kundigheid van die plaaslike toordokter (die Td) besing. Daardie man of vrou staan gewoonlik vir absoluut niks terug nie en hulle is die dapper muise wat vir niks skrik nie.
Hulle het vir jou doepa en raad vir elke probleem of uitdaging. Begeer jy ‘n sekere man of vrou? Kom na Td. X vir die beste en vinnigste doepa. Wil jy die Lotto wen? Geen probleem nie. Kom haal jou medisyne. Bring baie geld saam! Opkikkering in jou liefdeslewe? Nuwe kar? Wondergenesing vir alle soorte Kankers, MIV-vigs, enige soort siekte onder die maan! Maak nie saak wat nie, die Td hét raad én die regte muti teen sakpas pryse!
En! (Ssh…!) Soek julle manne dalk muti teen polisie-koeëls? No prob! Kom vanaand onder die volmaan na ssh…! Bring elkeen ‘n duisend rand saam. Dan doen ons die ding daar. Ek sal sorg vir die swart en die wit skape en die vuurhoutjies! Sorg net dat julle manne almal betyds is. Ons sal hulle ‘n ding of twee wys...!
En dan gebeur Marikana! Die dapper gemutiveerde krygers storm op die “weerlose” polisie af en die res is geskiedenis! Dis toe die koeëls wat vir niks geskrik het nie en die Td haal sy skouers op: Ek het gesê hulle moenie omkyk nie, maar hulle wou nie luister nie!
My vrae na Marikana is dit: Sal mense wat vir elke onbereikbaarheid na die Td toe hardloop so ‘n bietjie besin oor hierdie muti-besigheid? Sal hulle oë oopgaan vir die bedrog van die Td’s? Wen die Td’s ooit die Lotto? Ry hulle in duur motors rond? Vir hierdie een is dit ‘n besliste “ja!”, maar nie weens hul bo-natuurlike “kragte” nie, maar wel as gevolg van die eenrigting verkeer wat hulle skep tussen die beursies van die bygelowiges en die Td se bankrekening!
Maar miskien het die polisie daar by Marikana tog wel die Td’s se reputasies sleg gekwes en ‘n hele klompie koeëls in toordoktery se doodskis geskiet. Miskien, net miskien was Marikana tog wel die beste teen-muti-serum ooit wat tot dusver die mark getref het.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.