Hierdie is deel II van die beoordeling van Katinka Heyns se fliek, Die Wonderwerker.
Wanneer ons na die karakters in Die Wonderwerker kyk dan weet ons uit navorsing dat Eugene Marais op ’n rasionele vlak en die mense van die Waterberg op ’n prerasionele vlak funksioneer. Volgens Sandra Swart in haar LitNet artikel “The construction of Eugene Marais as an Afrikaner Hero” was Marais se huistaal Engels, het in Londen studeer, het openlik sy panteïstiese geloof erken en het eredienste slegs vir huwelike bygewoon.
“He was something of a snob, alienated from his backveld contemporaries, whom he derided as ‘takhare’ (hayseeds or hicks).”
Hy het ook erken dat dit maklik was om die “takhare” te hipnotiseer. Terloops: Panteïsme volgens Ken Wilber in Eye to eye: The quest for the new paradigm, het die volgende probleme: “Because pantheism is a way to think about spirit without having to actually transform yourself. If God is merely the sum total of the empirical universe, you don’t need to fundamentally enlighten yourself to see that god, because that god is already clunking around in your visual field” (pg. 140).
Dit is dalk een van die redes hoekom Marais nooit eredienste bygewoon het nie en hoekom hy nie regtig van sy verslawing ontslae wou raak nie. Marais as die wonderwerker het glad nie van een vlak na ’n volgende verskuif nie. Marais kyk nogtans verder as die Waterbergers se etnosentrisiteit en weet dat daar ’n groter wêreld as die rysmiere is.
(Die artikel sal nie nou aan die ander lense soos States, Typology, Zonal, Energetic en Methodology aandag gee nie. Daar is natuurlik nog baie meer oor al die aspekte te sê maar dan raak die artikel onhanteerbaar groot.)
James Monaco (2009:176) in “How to read a film: movies, media and beyond”, 4de uitgawe, wys op die bekende uitdrukking, “A film is difficult to explain because it is easy to understand.” Monaco (2009:178) merk op dat films op twee maniere betekenis kommunikeer; denotasie – beteken dit is wat dit is en ons hoef nie na diepere betekenis te soek nie, en konnotasie – dui op die rykdom van betekenisse wat aan ’n beeld verleen kan word.
Kykers maak dikwels die fout om te dink dat alle visuele beelde dieselfde is (denotasie) en dus dieselfde geïnterpreteer kan word. As voorbeeld uit Die Wonderwerker kan ons verwys waar Marius Weyers se karakter (Gys van Rooyen) besig is om rieme te looi. As ons dit as denotasie lees, maak hy die rieme sag. Soek ons na ’n dieper betekenis sien ons dat die verhaal handel oor verweefde verhoudings wat hy op sy manier probeer hanteerbaar maak. Dit hang natuurlik af van die genre, die mise-en-scène (dit wil sê, alles wat op die skerm gebeur; die akteurs, die kamerahoek, die stelinkleding, en selfs die komposisie van die skote), montage, redigering, klank, musiek en die konteks hoe die kyker die betekenis van die rieme sou interpreteer.
In sy navorsing oor diep Primitiewe, oosterse, westerse en kreatiewe mitologieë het Joseph Campbell in The hero with a thousand faces agtergekom dat die mitiese verhale meestal handel oor ’n held wat op reis gaan, opsoek na “’n skat” wat hy of sy na die stam, volk of die wêreld tot almal se voordeel kan terugbring. Soos meeste stories het die held se reis ook ’n begin, middel en einde.
Christopher Vogler, ’n Hollywood draaiboekkonsultant, het ’n groot verskeidenheid van draaiboeke geanaliseer en die held se reis soortgelyk aan Campbell se struktuur in baie films raakgesien. In The writer’s journey: mythic structures for writers, 3de uitgawe, som Vogler die reis soos volg op: 1. Die held word in sy/haar gewone omstandighede voorgestel wanneer 2, die held die oproep tot die avontuur ontvang, 3, wat hy/ sy aanvanklik traag is of weier om te antwoord, 4, totdat die mentor hom/ haar oortuig, 5, en deur eerste deurgang gaan om die spesiale wêreld te betree. 6. Hier ervaar die held toetse en leer wie die bondgenote en vyande is. 7. Die held betree die innerlike grot en steek die tweede deurgang oor, 8, waar hy/ sy ’n beproewing verduur. 9. Die held neem besit van die skat en 10, word agtervolg op die pad terug na die gewone wêreld en 11, deur die derde deurgang gaan en ervaar ’n opstanding en word verander deur die ervaring. 12. Die held keer terug met die skat tot voordeel van die gewone wêreld. Verder sê Vogler die volgende oor die held:
In psychological terms, the archetype of the hero represents what Freud called the ego – that part of the personality that separates from the mother that considers itself distinct from the rest of the human race. Ultimately, a Hero is one who is able to transcend the bounds and illusions of the ego, but at first, Heroes are all ego; the I, the one, that personal identity who thinks it is separate from the rest of the group. The journey of many Heroes is the story of that separation from the family or tribe, equivalent to a child’s sense of separation from the mother. The Hero archetype represents the ego’s search for identity and wholeness.
Roger Walsh in The World of Shamanism (pg. 39), wys daarop dat die held begin as ego en eindig om een met alles te word. Die kyker identifiseer met die held en beleef plaasvervangend saam met die held hierdie ontlediging van die ego en die eenwording met “nothingness”.
Die eerste betekenis draer waarna die kyker soek is “Wie is die hoofkarakter? Wie het ’n duidelike doel aan die begin van die verhaal en wie verander die meeste? Die kyker wil met iemand identifiseer waarby hulle emosioneel betrokke kan raak. Elke toneel het ’n hoofkarakter wat iets wil hê en moet alles opoffer om dit te bekom. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die openingstoneel uit Francis Ford Coppola se The Godfather. Die openingstoneel begin op ’n nabyskoot van Bonasera, ’n begrafnis ondernemer wat by Don Corleone hulp soek om geregtigheid vir die verkragting van sy dogter te kry. Hy vra dat Don Corleone die skuldiges moet doodmaak. Hy bied geld aan en dan uiteindelik erken hy Don Corleone as die Godfather en vra dat hy sy vriend moet wees. Hy gee sy eer en sy integriteit prys ter wille van sy dogter. Bonasera is dus die hoofkarakter in die toneel, maar nie van die film self nie.
Wat is Eugene Marais as wonderwerker se doel aan die begin? Hy wil water hê, gesond word en sy morfien gebruik. Het hy enigsins gedurende die loop van die verhaal verander? Nee. Hy is slegs die katalisator vir verandering, indien enige.
Is die hoofkarakter Jane Brayshaw? Sy vertel immers die storie. Aan die begin sê sy dat Eugene haar lewe verander het maar ons sien nêrens hoe nie. Sy was die onskuldige bakvissie in die begin en aan die einde hardloop sy weg soos ’n stout kind wat nie haar sin kan kry nie. Hier kan ons Kaplan se ontwikkelingslyn nader trek: dit is die psigies-seksuele ontwikkeling. Ons verneem dat sy van haar ouers weggeneem is omdat die’ nie goed na haar kon omsien nie en deur die Van Rooyen gesin ingeneem is. Sy soek ’n vaderfiguur in Eugene Marais en aan die einde het niks verander nie. In werklikheid weet ons nie of daar ’n seksuele verhouding tussen die twee bestaan het nie. Kan die hoofkarakter Tamaria wees? Sy raak ook verlief op Eugene en smeek hom om aan haar te vat. Sy verlang na aanraking terwyl sy en haar man het byna 20 kinders gehad. Hulle kon ’n bietjie sonder aanraking klaarkom.
Dit is die groot probleem met die rolprent – dit het geen hoofkarakter en geen oorkoepelende doel nie. Die gevolg is dat daar geen tema is nie maar slegs ’n paar fiktiewe grepe (anekdotes) uit Eugene Marais se lewe op Rietfontein. Aan die einde van die rolprent wil die kyker darem weet wat die tema van die verhaal is. Dara Marks in “Inside Story: The power of the transformative arc” sê dat ? storie geen impak sonder ? tema het nie want: “”theme is what gives meaning to the activity of the plot and purpose to the movement of the characters.” (pg 73) Op sy beurt noem Eric Edson in “The Story Solution: 23 Actions all great heroes must take”, dat “(theme) resides within the character flaw of the hero. How the central character must grow in order to resolve the plot conflict reveals the theme.” (pg. 8) Die verwarring oor wie die hoofkarakter is en wat die doel van die karakter is maak van Die Wonderwerker ’n “flawed” verhaal. Watter een van die karakters het ’n “flaw” en hoe oorkom die karakter dit?
In geen van die karakters se storielyn is daar die ontwikkeling waarvan Vogler praat nie. Al wat ons agterkom is dat Eugene Marais se teenwoordigheid op die plaas Rietfontein die twee verhoudings (Maria en Gys, en Adriaan en Jane se verhoudings) verander het. Adriaan is op sy plek gesit en Maria en Gys vat aan mekaar toe Eugene die werf vir die laaste keer verlaat. Hoe het die verandering plaasgevind? Gys het die katoolse Adriaan die Leviete voorgelees en Adriaan wou Eugene met sy geweer uit desperaatheid doodskiet. Hoekom hy dit nie gedoen het nie, is nie duidelik nie. Gys het gewaarsku dat Eugene sy hande van Maria moes afhou. Niemand het iets gehad om te verloor nie. Eugene se enigste probleem was om genoeg morfien te kry wat hy in elk geval op Nylstroom kon kry.
Linda Seger in Writing Subtext: What lies beneath sê: “Subtext is the true meaning simmering underneath the words and actions. It’s the real unadulterated truth. The text is the tip of the iceberg, but the subtext is everything underneath that bubbles up and informs the text.” (pg 2).
As voorbeeld uit Die Wonderwerker kan ons die toneel tussen Maria en Eugene in haar kamer gebruik. “A scene is a story in miniature – an action through conflict in a unity or continuity of time and space that turns the value-charged condition of a character’s life.” Aldus Robert McKee se Story: Substructure, structure, style, and the principles of screenwriting (pg.233).
Elke toneel moet dus ’n hoofkarakter hê wat ’n doel het en alles in sy/haar vermoë sal doen om die doel te bereik. Die karakter slaag slegs aan die einde van die verhaal. Die hoofkarakter van die toneel is Maria van Rooyen (gespeel deur Elize Cawood). Sy wil hê dat Eugene aan haar aandag moet gee. In die groter konteks van die verhaal is Maria jaloers op Jane wat al die aandag kry. Om haar doel te bereik maak Maria asof sy siek is en wil hê dat Eugene haar moet ondersoek sodat hy aan haar kan raak.
Eers kla sy oor die pyn in haar bors en smeek hom om nader te kom. Sy smeek hom om haar as vrou te sien maar hy weier. Sy werk te hard en wil nie sy pille vir hom gee nie. Adriaan sien dat Maria Eugene se hand vashou en maak verkeerde gevolgtrekkings. Hy blameer Eugene. Eugene het nou skielik die hoofkarakter van die toneel geword want hy het nou die meeste om te verloor. Die subteks is die verbrokkelde verhouding tussen Maria en Gys.
Vergelyk ons Die Wonderweker met Clint Eastwood se Pale Rider wat min of meer dieselfde verhoudingstruktuur het, skiet dit ver te kort. Die verhaal handel ook oor ’n vreemdeling wat in ’n myner gemeenskap en veral die lewens van twee vroue kom en alles omvergooi.
Die vreemdeling (Clint Eastwood) verander nie maar die gemeenskap kan nou saamstaan teen groot besighede en die twee vroue leer iets van hulleself en het groter verdraagsaamheid teenoor mekaar. Die openingstonele wys die rustige wêreld van die klein groepie delwers langs die rivier en die dreigende gevaar van die naderende ruiters. Na die vernietiging van hulle kamp begrawe die jong vrou, Megan, haar hond en sê Psalm 23 op.
Sy wil hê, sy is bang en sy vra vir ’n wonderwerk. Sy twyfel oor die bestaan van God en wil eers iets van hierdie lewe ervaar voordat sy “in die huis van die Here” gaan bly. Dit word afgewissel met skote van die berge: “Ek kyk op na die berge, waarvandaan sal daar vir my hulp kom?” En dan verskyn die Pale Rider vanuit die koue op sy wit perd. Die kyker weet onmiddellik wie die hoofkarakters is, Megan en die hele gemeenskap, en wat hulle wil hê. Clint Eastwood se karakter is die katalisator vir die verandering.
In ’n half-meng sien ons Megan op haar knieë wat bid: “Please, just one miracle” en die Pale Rider wat van links na regs verby die kamera beweeg. Dan sien ons weer vir Megan op haar knieë terwyl sy Amen sê. Vir die eerste keer sien ons meer van Clint Eastwood op sy perd, selfversekerd en ons weet dat hy die wonderwerker is wat geen nonsens van kabouters gaan vat nie. Spanning, intrige en drama is klaar opgesluit in die eerste 10 minute van die verhaal. In vergelyking met Pale Rider figureer godsdiens glad nie in Barnard se teks van Die Wonderwerker nie.
In ’n toneel tussen Clint, nou bekend as Preacher, en Megan by haar hond se graf, bely Megan haar liefde vir Preacher. Sy antwoord is dat daar niks verkeerd is met liefde nie en hoe meer liefde daar in die wêreld is, hoe minder dood sal daar wees. Megan vra vir Preacher om haar te leer om “liefde te maak”, siende dat sy die volgende maand 15 sou wees. Daar is soveel patos in die toneel maar dan verander dit toe Clint haar liefde nie aanvaar nie. Megan dink dat Preacher haar ma liefhet en verwens hom skielik. Hy bly staan en kyk haar agterna. Nadat Preacher van al die skurke ontslae geraak het en reeds uit die dorpie is, kom Megan daar aan en roep agter hom aan dat sy hom liefhet. Sy sê ook dankie vir wat hy gedoen het.
Natuurlik is Die Wonderwerker nie ’n wilde weste fliek nie, maar speel nogtans op die platteland in ’n eenvoudiger tydperk af. Eugene is die “outsider” wat die lewens van die gemeenskap drasties kom verander. In enige drama soek mens spanning, konflik, opoffering en verandering. Van die elemente kry ons eers in die laaste 15 minute van Die Wonderwerker.
Ten spyte van al my kritiek teen Die Wonderwerker besef ek dat kunstenaars hieraan gewerk het. Alex Grey in The Mission of Art skryf die volgende oor kuns: “Every work of art embodies the vision of its creator and reveals a facet of the collective mind. Artist offer the world the pain and beauty of their soul as a gift to open the eyes of and heal the collective. In order to produce their finest work, artists lose themselves in the energetic flow of creation, become possessed by an art spirit.”
Elke kyker moet uiteindelik self bepaal of Die Wonderwerker hulle aanspreek. Ek sluit af met ’n aanhaling oor die werk van die Australiese film regisseur Peter Weir:
“This (‘mystical ’) gaze constitutes one of the most important but neglected forms of spectatorship in the cinema. It leads spectators to contemplate their place in a larger frame of reference where physical laws count for less and a relationship with a metaphysical and, often, a meta-ethical world, is taken seriously. Either in the short or long term this leads the viewers to a new consciousness of their surroundings, ideologies and moral imperatives. The mystical gaze transforms the viewers’ awareness, suggests that there are realities beyond their sight and that the cinema is one way to contemplate and encounter this Otherness, especially in Western countries where religious collectives now play a lesser role than they have historically in providing a context for a mystical encounter.” (Leonard, Richard (2009-02-01). The Mystical Gaze of the Cinema (Kindle Locations 40-46). Macmillan Publishers Australia. Kindle Edition.)
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.