Ek lees in 'n kerkkoerant die volgende redes vir wit Afrikaanse kerke wat krimp.
Die redes is o.a. as volg: Mense is al hoe minder betrokke by gemeenskapsorganisasies, die dalende geboortekoers, ateïsme, en charismatiese invloede.
Ek het die afgelope paar maande deur 'n hele paar dienste gesit in tradisionele en pinkster-kerke.
Ek het doelbewus notas gemaak en geluister met wié en met watter groep praat die predikers. Die preke was hoofsaaklik oor sonde-bewusmaking, sonde-belydenis en 'vreeslik is dit om te val in die hande van 'n lewende God'.
Christene is deur God afgevaardig om uitsonderlike dinge te doen. Hierdie opdrag is nie bedoel vir baba-Christene of vleeslike Christene nie, mense wat nog deur hul emosies beheer word, gedurig in stryd is met sonde, sake, mense en impulsief optree. Dis vir die kinders van God wat gehoorsaam is aan Sy stem en nie Sy beeld wil benadeel nie.
Daarom dink ek dat predikers 'n baie meer omvattende taak het wanneer hulle preek. Hulle moet onthou dat die groepe wat voor hulle sit, is van baba tot volwasse Christene.
Vir 'n volwasse Christen kan dit frustrerend wees om elke keer met melk gevoer te word. Waar is die onderwerpe wat kan lei tot dooies opwek, lammes wat loop en skaduwees wat siekes genees? Waar is oorlogvoering en lewe praat oor dooie stuasies? Hoe kan ek die krag van God wat in my werk gebruik om hierdie bonatuurlike dinge te doen? Hoe herken ek God se stem? ens.
Die volwasse Christene in die kerk is deur die Heilige Gees en sy persoonlike verhouding met die Vader 'gevoer'. Die Charismatiese kerke op TV dra ook baie daartoe by.
Ek het nog nooit in mý kerk 'n prediker gehoor wat 'n hele diens wy om God se kinders te vertel hoe lief Hy hulle het nie.
Ek stel ook voor dat die preke kort moet wees sodat meer tyd aan getuienisse afgestaan kan word. So is daar meer meelewing want die meeste Christene weet nie hoe om dit wat die Bybel leer, in die praktyk toe te pas nie.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.