Beste sportmens,
Ek skryf vandag ‘n ope brief aan die gemeenskap oor ‘n krapperige saak en ek vertrou dat jy my brief sal lees met die integriteit waarmee ek dit skryf.
Lance Armstrong was die laaste paar weke vir alle verkeerde redes in die nuus. Hy is onthef van sy sewe Tour de France titels, ontslaan deur sy borge, verban uit fietsry en verguis deur die administrateurs van fietsry oor sy beweerde opkikkermisbruik.
Op hierdie stadium ja, is als bewerings. Armstrong het niks erken nie, maar hy het die administrateurs, borge en publiek hul gang laat gaan oor die bewerings. Armstrong het gesê hy is siek en sat vir baklei.
Intussen is een van ons mees suksesvolle fietsryers, David George ook in die spervuur nadat hy erken het dat hy ook verbode middels gebruik het. George, tweede in verlede jaar se Cape Epic, het in die media erken dat hy die verbode middel EPO gebruik het. Sy verhoor, na aanleiding van die bewerings en sy openbare erkenning lê nog voor.
Twee fietsryers, twee insidente, twee stelle gevolge. Hoeveel stelle reëls?
Nie te lank terug nie, om die waarheid te sê in Januarie 2011, was Bjorn Basson en Chilliboy Ralepelle van die Blou Bulle in die moeilikheid oor die gebruik van ‘n verbode middel.
Hulle is na ‘n ondersoek, vrygespreek alhoewel spore van die verbode middel in hul liggaamsvog gevind is.
Geen haan het daarna weer hieroor gekraai nie.
Op internasionale vlak is Marion Jones, briljante vroulike naelloper, skuldig bevind aan die gebruik van verbode middels, selfs al het sy geen erkenning daartoe gemaak nie. Sy moes als teruggee en het in die tronk beland vir haar “wandade”.
In die sportgemeenskap sal jy gereeld argumente vir en teen die gebruik, toets en gevolge van opkikkergebruik hoor. Intussen word die lys van bewerings en verdagtes al hoe langer namate die media al hoe meer sensasioneel daaroor berig.
Lance Armstrong is ‘n goeie voorbeeld hiervan.
Jare van verdagmakery, onkeninning, argumente, hofaske, eise... eintlik dink ek, soos jy, wou ons nie hê die “penny” moes “drop” nie.
Armstrong was ‘n held.
Mense hou van drome en die idealisering van ‘n held. Ons hou van iets groters waarin ons kan glo en na kan opkyk. Ons wil filmsterre en sportmense bewonder.
Selfs toe die krake kom, het ons steeds bly glo in die goed wat Armstrong kon uitstraal. Hy was bo die reg verhewe en ons het versadig ge-eet aan die soetkoek van hierdie skadukant van sport se onderwêreld.
Hy was meneer Livestrong wat die Tour de France “syne” gemaak het en kanker oorwin het.
Realisties gesproke, na tien jaar van krap is daar slegs omstandigheidsgetuienis gevind deur die Amerikaanse Anti-Doping Agency teen Armstrong wat grootliks gebaseer is op erkennings van mede ryers wat ‘n appeltjie met hom te skil het.
Vir verskeie redes is ek dankbaar die sweer het gebars. Armstrong het besgegee. Of hy onwettige middels gebruik het, is bysaak. Feit is sy kompeteerders het erken hulle het gedope en soos die media dit graag wil uitmaak, die grootste opkikkerskandaal-era in sport is ontbloot.
Die vraag is waarheen nou met opkikkerbeheer?
Of Armstrong harder geoefen het as almal, nooit ‘n voet verkeerd gesit het gedurende die Tour de France nie of die mees suksesvolste ryer ooit was, is nou geskiedenis. Hierdie en ander onderwerpe word nou ‘n debat vir of teen hom.
Geen wonder dat gesaghebbende stemme in die mediese, sport en kommersiële veld opgaan om die reëls van opkikkegebruik te verander nie. Die twee pole sal atyd daar wees; die reëls en die omstandighede wat die reëls probeer beheer. Daar sal altyd diegene wees wat sport rigied probeer beheer en die ander wat kyk waar ‘n gaping in die reëls is, ter beswil van die atleet wat beter, vinniger en verder wil gaan.
Sport lewer bitter min langtermyn helde op in enige era.
In ons generasie was ons bevoorreg om internasionale helde soos Michael Schumacher, Valentino Rossi, Usain Bolt en Lance Armstrong te sien.
Op nasionale vlak het ons rugby-, sokker-, krieket en atletieksterre, swemkampioene, golfkampioene en kampioen-fietsryers, Comrades-ikone en ultra-atlete wie ons bykans verafgod.
Ons en die borge, die media en amateur sportmense kyk op na hulle en idealiseer hul prestasies en leefstyl.
Is of was hulle almal altyd “skoon”?
Wat dan as hulle nie eerlik was nie? Is reëls absoluut of mag daar uitsonderings wees? Waar trek jy die streep van integriteit, te midde van ‘n oormag van druk om te presteer?
Bring die argument nader aan jou eie bas; wat van jou gemoedstabiliserende pilletjie, antidepressante, kalmeermiddels? Dope jy nie ook nie?
Ons verwys na sport en opkikkers in dieselfde asem as dagga, heroïen, crack en tik. Is dit regverdig?
Gooi jy maar liewers die eerste klip!
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.