Omstredenheid beklee weereens die polisie na aanleiding van die Lonmin-tragedie.
Wat is verkeerd met die byna 200 000 polisielede dat hulle nie uit die kollig kan bly nie?
Kom ons gaan terug na net voor en net na die Tweede Wêreldoorlog. Die bevolking was klein maar werk was skaars. Die polisiemag, geskoei op die Engelse tradisie, het status gehad en het van jou beste mense gelok soos onderwys asook al die ander afdelings van die burokrasie.
Aansoekers is deeglik gekeur en opgelei. Dissipline was uiters streng soos oud-polisielede kan getuig. Alhoewel die apartheidsregering geweldig ten gunste van wittes gediskrimineer het, is die bruin-, swart- en Indiërlede van die mag ook streng gekeur en deeglik opgelei.
Van Namibië se swart polisie is ook hier opgelei by Hammanskraal en hulle was geweldige trotse en gedissiplineerde mense. Bevordering moes verdien word en het op meriete geskied.
Baie senior offisiere het gevorderde akademiese kwalifikasies gehad.
Toe kom 1994 en die regering wou so gou moontlik die onregte en ongelykhede van die verlede regstel. Streng keuring is nie meer toegepas nie en die instrukteurs was nie altyd op standaard nie.
Om die nuwe rekrute, wat in baie gevalle nie opgewasse was vir die kursus nie, te akkommodeer het standaarde gedaal. Uit reaksie uit die outoritêre styl van die apartheidsregering het streng dissipline ook in die slag gebly.
Nog erger was die uitwerking van kaderbemagtiging, nepotisme en bevordering op grond van ras en nie volgens meriete nie.
So het totaal onbevoegde mense in posisies beland waarvoor hulle nie opgewasse was nie. Die gevolge van al die negatiewe faktore was 'n daling in standaarde, dissipline en effektiewe polisiëring. Onetiese optrede deur polisielede, korrupsie en afname in respek vir en vertroue in die magslede het toegeneem.
Misdaad het met rasse skrede toegeneem en in plaas van keuring en opleiding te verbeter en vrot appels ui te gooi, is die mag van plus minus 130 000 tot die huidige byna 200 000 vergroot.
Oud-kommissaris Jackie Selebi was trots daarop.
Maar in die proses het streng keuring en gehalte nog meer in die slag gebly.
Hoe moet sake reggestel word? Al die faktore wat vir die dilemma verantwoordelik was, moet uitgeskakel word. 'n Duur proses om ontslae te raak van die ongeskiktes moet begin word en meriete moet die maatstaf word by keuring.
Die mag moet weer 'n gerespekteerde professionele groep mense word met selftrots wat lyk en optree soos handhawers van wet en orde.
GESELS SAAM: Hoe voel jy oor die polisiediens? Het jy vertroue in die manne en vroue in blou? Stuur jou mening na terugvoer@nuus24.com.
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.