Dis vir my baie interessant dat daar 'n mosie van wantroue teen president Zuma ingedien is.
Dit sê vir my een ding: Ten minste word die foute van Zuma se administrasie raakgesien.
Of daar egter iets van gaan kom, is nie so seker nie.
Ek vind dit bemoedigend dat verskeie opposisiepartye saamgestaan het om Zuma uit te daag, maar die regerende party het ongelukkig genoeg lede in die parlement om hierdie mosie teen te staan.
As sake 'n bietjie meer gelyk was, was dit dalk 'n ander storie.
Een ding is seker: Wanbesteding, korrupsie en finansiële onreëlmatighede het onder Zuma se administrasie geweldig toegeneem. Of dit spesifiek Zuma se skuld is, en of dit maar net deel is van die gewone agteruitgang van die ANC oor die laaste paar jaar, maak nie regtig saak nie. Wat saak maak is dat mense dit raaksien.
Kom ons wees maar eerlik: daar gaan nie veel kom van daardie mosie nie. Maar Suid-Afrikaners neem kennis daarvan. Hierdie enkele stemme van ontevredenheid kan later 'n koor van afkeur word wat selfs vanuit sy eie party kan opklink.
Gaan dinge oornag verander in Suid-Afrika? Ek dink nie so nie. Maar hoe meer mense hulle ontevredenheid duidelik maak, hoe beter.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.