Regstellende aksie is ‘n aktuele onderwerp wat gereeld om braaivleisvure bespreek word.
Die meeste blanke Afrikaners wat ek ken beskou regstellende aksie, soos tans toegepas deur die regering en baie maatskappye, as seker een van die suiwerste vorms van rassime en diskriminasie denkbaar. Dit is seker een van die min onderwerpe wat blanke Afrikaners behoort saam te snoer soos geen ander nie, die toekoms van jou kinders is immers op die spel – of so het ek gedink.
Regstellende aksie was altyd nog vir my ‘n onderwerp wat in die agtergrond was, maar dit het stadig warmer en warmer geword met tyd, amper soos ‘n pot water op ‘n vuur. Die Woolworths-sage was net nog ‘n brandende stomp wat op die vuur gegooi is.
Ek wil nie in hierdie brief ten velde trek teen Woolworths nie, hulle het die advertensie gebruik om wit kanidate sommer van die begin af te laat weet dat hulle nie aansoek hoef te doen nie – ten minste was Woolworths eerlik. Ander maatskappye gebruik mooi woorde in hul advertensies, maar die resultaat is dieselfde, blanke-aansoekers haal net ‘n onderhoud met die snippermandjie.
Solidariteit en die sosiale media het Woolworths dadelik aangevat en ‘n boikot aksie is deur Solidariteit van stapel gestuur. Hierdie was die ideale geleentheid om vir ‘n maatskappy te wys dat ons nie blatante diskriminasie teen blankes sal duld nie. Dit was nie eens moeilik nie en dit het nie eens naastenby dieselfde opoffering geverg soos byvoorbeeld die Marikana-myners wat met hul lewens geboet het nie. Ek het self aan die protesaksie deelgeneem, nie spesifiek om Woolworths te straf nie, maar eerder om my protes teen die onregverdigheid van regstellende aksie te demonstreer soos dit tans toegepas word.
Sondag moes ek egter gou hondekos gaan koop by die Waterkloof-winkelsentrum in Pretoria. My vrou en kinders hou daarvan om altyd eers na die visse in die winkel te kyk, maar ek het betaal vir die hondekos en buite gaan staan.
Die Woolworths-winkel is ‘n paar meter van die dierewinkel af en ek kon staan en kyk hoe die mense in en uit die winkel beweeg. Gedurende die 10 minute wat ek buite gestaan het, het baie blankes met trollies vol kruideniersware by Woolworths uitgestap.
Aanvanklik was ek kwaad, maar later hartseer. Hoekom moet my gesin elke maand geld afknyp om beide Solidariteit en Afriforum te ondersteun, maar ons eie mense steun diskriminasie teen hul eie kinders deur by Woolworths te koop? Waarheen is ons op pad as blankes? Wil ons nie eers die minste opoffer nie?
Ek het nie nou die antwoorde op die vrae nie, maar die toekoms sal ‘n antwoord van ons verg.
Die opoffering wat gevra word sal toeneem met elke geleendheid wat ons verspeel.
Sterkte aan alle blankes wat veg teen diskriminasie, maar ongelukkig is daar ook van ons blankes wat Woolworths (lees diskriminasie) getrou ondersteun met ‘n Sondagkoerant onder die arm en ‘n rugbystorie op die voorblad...
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.