Volwassenes slegte voorbeeld vir jonges
deur Lea Erasmus
2012-01-24 14:45
Ek het ‘n dag of twee gevat om hieroor te dink, maar na die brief in die Volksblad oor die vrou in die blou bakkie wat byna die ou oom omgery het, het ek besluit om maar my mond uit te spoel.
My jongste seun (18) se meisie (16) moes ‘n toespraak skryf oor die jeug en vra toe by ons bietjie raad. Ek het besluit om die aanslag van die opskrif hierbo te gebruik aangesien ons die vorige naweek twee praktiese voorbeelde daarvan beleef het.
Saterdag 21 Januarie 2012 net na twaalf die middag, ry ek en my oudste seun se verloofde om gou iets vir middagete te gaan kry vir die klomp manne wat besig is om ‘n afdak op te rig.
By die mini sirkel op die hoek van Hertzog en Codonialaan in Waverley wag ek my beurt af om deur die sirkel te beweeg. Toe dit my beurt is, ry ‘n vrou van regs voor my in maar ek laat haar maar begaan. Toe ek weer probeer, kom ‘n jonge heer met sy Mercedes ook van regs en ry sommer half oor die sirkel.
Ek blaas toe maar die toeter want ek wil ook darem nie eers vyfuur by die huis kom nie. Sal die stommerik vir my die immer gewilde middelvinger gooi sonder om eers in my rigting te kyk. Langs hom sit ‘n seuntjie van omtrent so ses of sewe jaar.
Ek ry toe maar agter hom aan wat ek eintlik nie sommer sal doen nie, maar ek wil hom toe iets vra. ‘n Blok verder stop hy in ‘n parkering langs die pad en ek trek langs hom in. Hy ignoreer my aanvanklik nadat hy my skrams gesien stop het.
Hy brom in die seuntjie se rigting en toe hy uitklim, vra ek hom of hy dink dis ‘n goeie voorbeeld vir sy seun waarop meneertjie antwoord: “Dis nie my kind nie, so hoekom sal ek omgee…” – en toe lag hy ons uit. Ek vra toe ook so terloops of dit is hoe hy met sy vrou of meisie ook werk?
Sondag ry my jongste seun en sy meisie Wonderboom Junction toe en alhoewel ek nie by was nie vertel hy na die tyd dié storie: As gevolg van ‘n trok wat in die ryvlak gestaan het, kon hy nie sien dat ‘n vrou reeds gewag het vir die parkering wat oopgaan nie. Nadat hy sy flikkerlig aangesit het, draai hy by die parkering in en stop.
Die vrou, ook met ‘n jong dogtertjie by haar, jaag op sy kar af en parkeer reg agter hom, so dat hy nie sou kon uitkom nie. Sy spring uit en begin vloek en skree op die arme kind asof hy ‘n doodsonde gepleeg het.
Hy het beleefd om verskoning gevra omdat hy haar nie gesien het nie, maar die taalgebruik wat sy gebruik het, het veel te wense oorgelaat vir die voorbeeld wat ook sy vir haar dogtertjie moes stel. ‘n Man wat daar naby geparkeer was het bloot sy kop vir haar geskud.
Dis dan my punt: Dink volwassenes partykeer oor hulle optrede voor jong kinders? Weet hulle watter invloed hulle op die volwassenes van môre het? Besef hulle die belangrikheid van hulle optredes op die jongmense van vandag en die ouers en volwassenes van die toekoms?
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.