In reaksie op Marais Bester se brief en spesifiek: “My vraag is of die organisasies wat ons stig om ons taal te behou ons nie afsonder van die res van Suid-Afrika nie? Organisasies wat gestig is vir die behoud van die Afrikaanse taal soos Afrikaanse skole, NWU-Pukke, ATKV, FAK, die Afrikaanse Protestante Kerk en AfriForum doen sekerlik goeie werk om ons taal te behou, maar selfs binne-in hulle name skree dit: slegs Afrikaans-sprekendes is welkom!”
Organisasies wat Afrikaans bevorder oor die algemeen, en spesifiek die wat hier genoem word, is hoegenaamd nie besig om vir die onregverdige bevoordeling van Afrikaanssprekendes ten koste van ander tale en anderstaliges in die land te vra nie, ons vra bloot vir die respektering van ons taal en ons identiteit.
Dis ook nie 'n distansiëring van die res van die land se burgers nie. Mense het veelvoudige identiteite – ek is 'n Afrikaner, 'n Afrikaanssprekende, 'n Suid-Afrikaner, 'n Christen, 'n Jack Russell-liefhebber, 'n vrou, 'n dogter, 'n werknemer, 'n skrywer, ensovoorts, ensovoorts.
Die een identiteit is nie ten koste van die ander nie en sluit ook nie die ander uit nie. In al hierdie hoedanighede behoort ek aan organisasies en nie een van hulle is eksklusief nie. AfriForum het byvoorbeeld baie lede wie se huistaal en moedertaal nie Afrikaans is nie, maar hulle kan hulle wel met die aktiwiteite van AfriForum assosieer.
Ek glo dieselfde geld ook by organisasies soos die FAK, ATKV, VVA en talle ander. Afrikaanse skole het lank nie meer net leerlinge wie se huistaal Afrikaans is nie, nes al die kinders in Engelse skole nie uit Engelse huise kom nie. NWU se taalbeleid is drietalig – Afrikaans, Engels en Setswana. Gaan kyk gerus na hulle webwerf.
As ek verhoed word om my taal – wat 'n amptelike landstaal in Suid-Afrika is en hier ontstaan het – te praat, dan sal ek wel begin om ontuis te voel in die land, want my taal is nie net 'n kommunikasiemedium nie, dis onlosmaakbaar deel van my identiteit. Ek glo die gevoel is nie uniek tot Afrikaanssprekendes nie – dit geld vir Xhosas, Zulu’s, Pedi’s, ... trouens alle Suid-Afrikaners.
Soos Lina Spies op 'n keer gesê het: “Ek kan net ek wees in Afrikaans.” In ons aanspraak op taalregte moet ons wel sorg dra dat ons altyd regverdig is, asook wedersydse erkenning en respek aanmoedig. Dit word reeds met groot sukses gedoen deur talle organisasies in die land – en ook nie net Afrikaanses nie.
Ons het verder 'n plig om Suid-Afrika se inheemse tale te beskerm en te bevorder. Hieroor sê dr. Mamphele Ramphele: “I can only hope that we can all wake up before something beautiful dies on our watch. No nation can succeed in building a prosperous democracy without mobilising the heritage, talents and pride of its people.” Mondli Makhanya skryf: “Having these languages around is not just a nicety. They contain a treasure trove of knowledge that enhances the human species' understanding of the world. When these languages go, all of that goes.”
Eerder as om 'n poging om 'n Suid-Afrikaanse landstaal te bevorder of te beskerm, te veroordeel of te bevraagteken, moet ons meer Suid-Afrikaners aanmoedig om hierdie unieke skat van ons land se toekoms te help verseker.
- Alana is Afriforum se adjunk uitvoerende hoof.
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.