'Ons gee net om vir onsself'
deur Nicholas
2010-08-24 07:26
Kan ek net sê, Afrikaners het in die laaste paar jaar een van die mees selfbehepte groepe mense geword wat ek al ooit gesien het.
Wanneer 'n mens so selfbehep raak dat jy net oor jouself en jou probleme kan praat sonder om jou te bekommer oor ander se probleme, is jy eintlik baie arm.
Ek sien dit elke dag in die mense om my. Ons is tog so lief om met die witbrood onder die arm te kla. Ons in ons paleise met drie slaapkamers en twee badkamers, met twee motors en lopende water en kos vir elke dag.
Ons grom die hele liewe tyd oor al ons probleme terwyl 80 persent van die land besig is om onder te gaan. Ons kla oor ons ons moet toesluit in ons mansions terwyl mense in die reën en koue onder sink en plastiek bly en kos moet bedel om aan die lewe te bly.
Ja, hierdie einste mense stem miskien hulle regeerders elke keer in maar hulle weet nie van beter nie. Wie sal uit eie vrye wil so wil lewe?
Eintlik wil ek nie eers hierdie brief skryf nie, want ek kan net weer dink watter vieslike kommentaar mense gaan lewer, maar ek kan nie anders nie.
As een mens swaarkry, ly ons almal daaronder. Maar nee, ons sien dit nie so nie.
Ons sien onsself as beter as die res van die land. Ons gee nie om wat van die ander om ons word nie, solank ons net in gemak kan lewe.
Ek kan nie glo ons het so geword nie. Enigiets, solank ons gemak net nie versteur word nie.
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.