'Ongeletterdheid is soos 'n tydbom'
deur Adri
2010-02-19 08:17
As 'n land word ons deur baie uitdagings in die gesig gestaar, en die meeste van ons het al geleer om daarmee saam te leef en positief te probeer wees oor die toekoms.
Maar as daar een probleem is met die potensiaal om ons toekoms 'n donker een te maak, is dit die ongelooflike mate van ongeletterdheid by ons skoolkinders.
'n Onlangse berig het byvoorbeeld weer uitgelig dat net 17.4% van die Wes-Kaap se gr.6-leerlinge die vereiste syfervaardighede het. Net 48.6% van hulle kan lees en skryf soos hulle moet.
Mense, ons praat hier van die basiese boustene van 'n land se toekoms. Met swak of geen geletterdheid, is die toekoms van ons ekonomie, en ons land in die geheel, beslis baie donker! Ek is seker ek hoef niemand van hierdie feit te oortuig nie – behalwe die politici, miskien!?
Wat doen ons hieraan? Ek moet eerlik sê, ek weet nie of die huidige regering die politieke wil het om iets te doen aan die situasie nie. Partykeer lyk dit of hulle veel meer bekommerd is oor die sondakke en allooiwiele op hulle BMW's as wat hulle is oor die toekoms van 'n hele generasie.
Ek wil voorstel dat ons miskien by die onderwysspesialiste van die vorige bedeling gaan kers opsteek, want dis duidelik dat die mense wat in beheer is in die nuwe bedeling nie weet wat hulle doen nie. En 'n mens kan die kinders ook nie kwalik neem nie, want met kurrikulums wat elke nou en dan verander en die fiasko van uitkomsgebaseerde onderrig is dit geen wonder dat dinge so gaan nie. Kan dit 'n oplossing wees om van die ou kenners te raadpleeg om dinge weer reg te ruk? As iemand enige beter idees het moet hulle nou so sê.
Onderwys in Suid-Afrika is besig om nie net hierdie generasie te faal nie, maar ook die volgende een.
En ek is bevrees as iemand nie vinnig iets aan die situasie doen nie, gaan ongeletterdheid wees soos 'n tydbom wat ons hele toekoms kan verongeluk!
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.