Ongeduld eis meeste lewens op paaie
deur Joubert
2011-12-27 09:04
Ons gesin het hierdie vakansie van Upington af Kaapstad toe gery, en later weer terug, en dit het net weer vir my duidelik geword wat eintlik die probleem op ons paaie is.
Ek dink nie ons grootste probleem is dronk bestuurders of mense wat jaag nie. Volgens my is die gevaarlikste bestuurders op die pad mense wat ongeduldig is.
Ons het dit hierdie vakansie soveel keer gesien (in alle dele van die land, nie net een provinsie nie). Dit begin gewoonlik met 'n vragmotor. Jy kan sommer vinnig sien watter bestuurders is die ongeduldiges – dis hulle wat dadelik op die vragmotor voor hulle se stert ry. As dit dan net 'n bietjie te lank vat sal hulle sommer blindelings verbyvat – dikwels op sperstrepe.
Ek kan nie eers tel hoeveel mense het ons hierdie vakansie sien verbysteek op blinde heuwels nie. Wat dink so 'n persoon? Is 'n mens regtig bereid om so met jou lewe te speel (en al die ander mense om jou s'n ook?). Die beste van alles is dat die ongeduldiges gewoonlik nie veel tyd spaar nie – miskien vyf of tien minute as hulle gelukkig is.
Dis nie die moeite werd om jou en ander se lewens op die spel te plaas net omdat jy haastig en ongeduldig is nie. Wag maar net so 'n bietjie langer. Jy sal wel by jou bestemming uitkom. Hopelik nog in een stuk...
Die reis is deel van die avontuur – hou op om dit om te jaag!
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.