Vandeesweek is dit weer hef aan vir Heyneke Meyer en sy Boktroepe.
Die Iere, Skotte en Engelse wag en Meyer sal hierdie geleentheid sekerlik gebruik om die kwelvrae in sy span aan te spreek, veral by die agterlyn langs.
Die voorspelers sal eweneens op die swaar Europese velde hul kant moet bring as Meyer enigsins hond haaraf wil maak op kritisie posisies.
Johan Goosen blyk die eerste keuse te wees op nommer 10, maar sy besering hou hom tans uit die spanlys vir ten minste nog diep in 2013. Elton Jantjies en Pat Lambie is weliswaar daar, maar Meyer het ‘n belt en kruisbande saamgebring toe hy Morné Steyn opgeroep het. ‘n Mens kan dit verwag, want kort voor die Curriebeker-einstryd was
Meyer nog onseker oor Lambie se taktiese skoppe.
Jantjies het hom ook nie geval wat stelskoppe en strategie aan betref nie, dus is Morné se rustyd van korte duur. Dit plaas Morne Steyn natuurlik ook op ‘n warm sinkplaat want, indien hy op hierdie toer faal, is dit klaarpraat met sy Groen-en Goue trui.
Dis geen geheim nie dat Meyer vir Fourie du Preez terug wil hê in sy span, maar hy en Jaque Fourie speel tans in Japan en met beserings aan Habana en Frans Steyn is hy maar dun gesaai op nommers 11 tot 14. Jaco Taute en Juan de Jongh mag dit dalk maak, maar Taute se blapse op nommer 13 sal Meyer tweekeer laat dink oor sy insluiting op die posisie.
Zane Kirchner lyk ook eerder asof hy Meyer se tweede keuse sal wees bo Taute op heelagter, maar soos met Lambie en Jantjies, sal Taute sy skopwerk, bal-in-hand besluitneming en voordeellyn aanval en verdediging op die nommer moet hê.
Saterdag is dit die beurt van die Iere, wie al afgereken het met Springbokke op drie van die laaste vier geleenthede in Dublin, maar beserings aan sleutelspelers soos Brian O’Driscoll, Rob Kearney, Rory Best, Sean O’Brien en Stephen Ferris gaan die Ierie maar dun laat. Paul O’Connell is ook in ‘n stryd gewikkel om betyds reg te wees Saterdag.
Voorlangs sukkel Cian Healy en Declan Fitzpatrick met beserings wat Ierland se kanse soveel minder maak om nog ‘n Bokkop te eis. Terselfdertyd moet ons kennis neem daarvan dat hulle teen Wallis verloor het, gelykop teen Frankryk gespeel het en getrap is deur die Engelse in die Ses Nasies-kompetisie.
Volgende naweek is dit die Skotte wat met die Springbokke in 2010 gemors het. Skotland het egter al sy Ses Nasies-wedsrtyde verloor, maar hulle het die Wallabies in Junie geklop op ‘n sopnat veld.
Die strafste toets vir die span van Meyer gaan kom op Twickenham teen Engeland en hulle sal op hul 10 toetssuksesse teen die Engelse wil verbeter, mits die beseringspook wegbly.
Meyer sal dit sekerlik op die vliegtuig reeds duidelik gemaak het dat hy van hierdie span (wie nog na speler nommer 32 rondtas-en dit kan Brian Mujati wees) drie uit drie verwag. Die manne van die noordelike eilande het niks in hul mondering wat vir of Meyer of Jean de Villiers laat rondrol nie en met 2013 om die draai, sal Meyer reeds potloodmerkies begin maak agter sekere spelers se name vir die wêreldbekergroep in 2015.
Die toekoms is voorwaar in die jong Bokke se eie hande.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.