“Dis die tipe besluite wat jy moet neem met jou afrrigtingskorps as jy ‘n stappie voor die opposisie wil bly... as jy kompeterend wil bly... tydsberekening is belangrik en jy moet nie soos ons laasjaar gedoen het, die spelers oorspeel nie...”
So klink ‘n hoofafrigter van een van die mees suksevolste rugby franchises wat die rugbywêreld nog gesien het. Eintlik beter gestel, so klink ‘n hoof-afrigter vir wie Krismis vroeg gekom het in 2012.
Ek het Frans Ludeke deur die spektrum van emosies sien gaan in die 2012 Superrugby-reeks. Hoop, opgewondenheid, hoop, teleurstelling, en uiteindelik-hoop en toe aanvaarding-als in ‘n kwessie van ‘n paar maande in ‘n malkop rugbyjaar.
Uiteindelik het die Nieu-Seelanders bewys dat, nie net hul nasionale span nie, maar dat hul streekspan, die Waikato Chiefs, die heel beste rugby speel in die Suidelike halfrond.
Ludeke se staatmakers wat insluit Victor Matfield, Danie Rossouw, Fourie du Preez, Gurthrö Steenkamp en Bakkies Botha was weg. Soos die seisoen aangestap het, het Ludeke al hoe meer begin rondskarrel. Dit sou ‘n jaar van anderste uiterstes wees in teenstelling met 2010 en die Bulls se geskiedkundige Orlando Super14 wen.
Ek het vergeet hoeveel keer Ludeke en sy kaptein, Pierre Spies die woorde “we must keep the faith, we must believe” gebruik het te midde van ‘n byna desperate poging om jong en ou talent in die span te meng. Soos die Engelse taal dit uitdruk, “they were at pains” en op die ou einde was die Bulls se beste poging slegs ‘n vyfde plek op die punteleer werd.
Ten spyte van die teleurstellende vertoning moet hy, Spies en Barend van Graan, hoof- uitvoerende beampte van die Blou Bulle Maatskappy ‘n klop op die skouer kry vir sportmansgees. Nooit het hulle iemand of iets anders blameer vir hul vertoning nie, behalwe hulleself. Dit is nog altyd ‘n kenmerk van die Bulls se mentaliteit.
Ek verskoon myself dus as ek te midde van die geskiedenis van hierdie trotse Suid-Afrikaanse rugby franchise en hul sukkelvertoning in 2012, ‘n vars briesie bemerk het by Dinsdag se perskonferensie.
“Versigtig optimisties”, was nogal een kollega se opmerking oor die gees waarin die detail van die veranderings bespreek was.
Met Matfield, wat in ‘n onderhoud verwys het na ‘n aanhaling in sy boek dat hy droom daarvan om Springbok-afrigter te word, Derick Hougaard wie soos ‘n stout skoolseun glimlag oor sy skopafrigterswerk met die juniors en Frans Ludeke wat jou herinner aan jou skool se hoofseun, is ek daar weg.
Op 22 Februarie 2013 skop die Suid-Afrikaanse been van die kompetisie af met ‘n ontmoeting van die twee aartsvyande, die Bulls en Stormers op Loftus Versveld.
Op die veld sal van Suid-Afrika se heel beste senior en junior spelers wees. Op die pawiljoen, duisende fanatiese ondersteuners van beide spanne.
Tussen hulle, hierdie keer in “stepouts”, Victor Matfield en Loftus se eie Liefling- Derick Hougaard.
Dis ’n groot tree wat deur die Blou Bulle Maatskappy gegee word met die verbreding van afrigtingsaanstellings, maar op Loftus Versveld moet jy groot treë kan gee...
*Van die belangrikste nuwe aanstellings is:
Victor Matfield: Voorspeler en Aanvalsafrigter: Superrugby en Curriebeker
Pine Pienaar: Verdedigingsafrigter Superrugby- en Curriebeker-hoofafrigter
Xander J v Rensburg: Hoë Prestasiebestuurder
Nollis Marais: Hoofafrigter: Vodacombeker, o.21 en Tuks Varsitybeker
Derick Hougaard: Skop-en Vaardigheidsafrigter, Juniors
Andre Volsteed: Hoof van Kondisionering
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.