Daar is nou hierdie advertensie op die televisie. Dit is van een van die algemene handelaars.
Dit is vir my ’n frustrasie dat ek blootgestel moet word aan die reklame so tussendeur die nuus. Mens kan seker afskakel vir daardie rukkie, of oorskakel, maar die probleem is dat hoe weet jy dan wanneer begin die nuus weer? Ek reken die beste wat jy kan doen is om vir daardie tydjie die klank af te skakel.
Ek vind immers in elk geval dat dit is asof die klank van die advertensies harder is as die program waarna jy kyk.
Ek het regtig ’n groot probleem met hierdie advertensie waar ’n pa aangerand word omdat hy ’n ‘verkeerde’ present aan sy bloedjie gegee het.
Daar gaan baie kinders hierdie Kersfees wees wat niks en veral nie liefde gaan kry nie. Die koerante berig juis dat die regering dit nou sterk oorweeg om welsynsorganisasies by te kom indien hulle die ‘verkeerde’ armes help.
Ek dink hierdie advertensie is onsensitief.
Hierdie materialistiese ingesteldheid hou ’n veel groter bedreiging vir ons as Christene in as die musiekoptredes van die popsensasie Lady Gaga.
Maar ek glo nie ons gaan vir eerwaarde Kenneth in aksie sien oor hierdie saak nie. Ons sal hom eerder sien daar waar hy veg vir Christene se reg om hierdie fees, wat weinig met ons geloof te doen het, te vier.
Nou ja, vir my is die ander opsie seker maar om net radio te luister. Maar mens wil tog graag gesigte by die name sien.
Dit is waarlik ’n baie groot frustrasie.
Hierdie is ’n uittreksel uit Barend se jongste blog.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.