Ek het met groot belangstelling die artikel gelees, dit is jammer jy noem dat Heyneke Meyer met die Bulle-oog die span kies, maar jyself kyk weer met ‘n WP-oog na die span en wil weer al die WP-spelers daar hê.
Frans Malherbe en Steven Kitshoff het al hoeveel keer vanjaar pak gekry (en gestraf) in die skrums in die Superreeks en Curriebeker. Fourie is geen opsie nie, want hy het geen posisie nie en Demetri Catrakilis is net daar omdat Peter Grant nie daar is nie alhoewel ek jammer is hy gaan Kings toe, want hy het baie talent. Wat van JC Janse van Rensburg van die Leeus, wie het teen hom staande gebly? Praat nou van talent vermors.
Ek sien nie fout met Pat Lambie op losskakel nie, hy kan tog nie in een toets gemeet en te lig bevind word nie, hy was hoe lank op heelagter en op die bank. Die man is ‘n losskakel en as hy nie goed genoeg daar is nie, los hom uit die span. Taute is ‘n heelagter, om hom te kritiseer is kleinlik, hy word daar ingedruk, dit is nie sy skuld dat ook hy uit posisie gespeel word nie. Francois Hougaard speel al meer as ‘n jaar lank vleuel, heng die man gaan nie in een toets weer ‘n briljante skrumskakel word nie. Los hom op 9 om weer sy voete te vind.
Die span se probleem begin by die losvoorspelers. Willem Alberts was goed toe niemand hom geken het nie, nou verdwyn hy want hy is te swaar en lomp vir ‘n goeie losvoorspeler. Marcell Coetzee en Francois Louw is ‘overrated’ kry ‘n ordentlike ‘fetcher’, Heinrich Brüssow en Derick Minnie staan uit. Minnie staan baie strafskoppe af, maar heng natuurlik sal hy want as jy 100 keer by die bal kom en ‘n ander losvoorspeler kom 10 keer daar dan gaan jy mos meer strafskoppe afstaan as die een wat amper nooit daar aankom nie. Ek sê nie hulle moet Minnie kies nie, maar tans is hy ‘n beter opsie as Alberts.
Ek dink Alberts se toekoms lê op nr. 4 slot, maar Eben Etzebeth is uitstaande en het in een seisoen van ‘no where’ gekom en is tans na my mening die top nr. 4 slot in die wêreld. Om op sy ouderdom so sy man teen die hardebaarde te staan en hulle aan te vat is fenomenaal. Duane Vermeulen bly ‘n goeie nr. 8, maar die vraag is of hy al reg is, tans speel hy ook nie soos ons hom ken nie.
Sit vir Jaco Taute op heelagter, waar hy hoort, sit vir Hougaard op skrumskakel waar hy hoort, los vir Lambie op losskakel waar hy hoort, sit vir Juan de Jongh in op senter waar hy hoort, sit vir Lwazi Mvovu op vleuel of gee Raymond Rhule ‘n kans (jammer Bryan is beseer want hy is vanjaar tops) waar hulle hoort en soek asseblief vir ‘n
ordentlike kaptein. Die een wat ons tans het voldoen definitief nie aan die standaarde nie en sy spelpeil laat veel te wense oor, op huidige vorm hoort hy nie daar nie, hy speel een goeie toets en bly dan daar vir 10 al is hy hoe af. Kyk na die talent onder die jongklomp, WP het met ‘n onbekende briljante senter in die finaal gespeel en hy het die Sharks ook oorhoops gehad.
Nee wat daar is baie meer probleme as net die Bulle in die span, van hulle is en bly goed genoeg, maar so is daar in al ons provinsies baie goeie spelers, kies net die regtes asseblief. En om provinsialisties te raak en die Bulle te wil ‘drop’ vir WP-spelers help net so min. As ons gaan op ‘n span wat die Curriebeker gewen het, dan moes die Leeus mos laasjaar ‘n klomp spelers daar gehad het, maar hulle het nie, selfs vanjaar was hulle kookwater en het ‘n blaps in die laaste minuut hulle van die Curriebeker weerhou.
Dit sê nie hulle moet daar wees nie, hulle was goed as ‘n span, maar hoe presteer daardie speler in ‘n ander span opset. Elton Jantjes is ‘n voorbeeld van ‘n speler wat sukkel om in die Bok-opset aan te pas. Waar is Lionel Mapoe, is hy nog beseer, hy was een van ons top-senters vanjaar!
Kom ons gebruik hierdie jongmanne en bou hulle oor die volgende twee en ‘n half jaar vir die wêreldbeker anders huil en kerm ons weer soos in 2011 oor ‘n skeidsregter wat ons die wedstryd gekos het, maar vergeet goedsmoeds van twee jaar tevore (2009) toe ons die Leeus hier gehad het, en hope tyd gehad het om jongspelers te skool vir die 2011 wêreldbeker.
Ons het nou weer die tyd, maar vraag is hoe gebruik ons dit?
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.