Gautrein het gou sy glans verloor
deur Anoniem
2012-02-07 07:34
6 Maande later - my ervaring van Gautrein op ‘n daaglikse basis:
Na jare van pendel tussen Pretoria en Johannesburg, waarvan die laaste 2 ‘n nagmerrie van padwerke was, het die koms van die Gautrein gevoel soos ‘n nuwe era wat aangebreek het.
Groot was my opwinding toe ek my eerste 35 dae-pas in Augustus 2011 aangeskaf het. Al die personeel was baie professioneel en vriendelik – die diens wêreldklas. Alles was skoon en nuut (soos dit moes wees).
Die trein was die eerste maand nie baie vol nie, maar die nuus oor die wonderwerk het vinnig versprei en kort voor lank was die treine in spitstyd oorvol. Dit het voorgekom of Gautrein die beste ding was wat met Gauteng gebeur het.
Maar dit was nie baie lank nie toe was daar reeds probleme met kabeldiefstal (laat ons regverdig wees – nie Gautrain se fout nie) en na bietjie meer as ‘n maand, die eerste maandelikse staking deur die busbestuurders. Ja, sover was daar basies elke maand ‘n staking... (onwettig volgens Gautrain/Bombela...)
So het die afdraende paadjie geleidelik begin. Met verloop van tyd het die badkamers vuiler geraak, personeel lakser. Sekuriteitspersoneel op die trein kuier met mekaar en busbestuurders het meer en meer onbedagsaam begin raak.
Nou, ses maande en vyf “onwettige” stakings later, wil dit blyk of die busbestuurders geheel en al die hef in die hand het. Die bestuur van Gautrain/Bombela vra net heeltyd verskoning oor hulle onvermoë om die probleem op te los maar wend geen poging aan om ‘n alternatief in plek te kry nie. Daar is ook geen sprake van kompensasie vir die mense wat sewe dae- of 35 dae-passe gekoop het en dit nou nie kan gebruik nie weens afhanklikheid van die busondersteuningsnetwerk.
Vanoggend het Gautrein die volgende op hulle Facebook-blad gepubliseer:
All Gautrain bus services remain suspended this morning. In terms of the disciplinary procedures invoked following their illegal work stoppage on the 1st February, Gautrain bus drivers were given until 11h00 on Friday 3rd February to make representation as to why they should not be dismissed. On the morning of 3rd February the drivers requested an extension of this deadline. In the interests of maximum fairness, Mega Express agreed to extend the deadline to 13h00. Shortly before 13h00, a request was received requesting a further extension. Again, in the interests of maximum fairness, Mega Express agreed to extend the deadline to 16h00. A submission from the drivers was subsequently received.
Hulle noem verder ook dat daar van die busbestuurders ontslaan gaan word en dat daar hard gewerk word om ten minste hulle “skeleton service” op die been te kry. Wat die pendelaars betref - net verkonings en geen oplossing of kompensasie nie.
Ek stel voor dat Gautrein/Bombela “in the interests of maximum fairness" 'n bietjie verantwoordelikheid teenoor hulle pendelaars neem. Die minimum wat hulle kan doen is om die geldigheid van hulle sewe dae- en 35 dae-passe, wat geraak word deur die staking, te verleng met minstens dieselfde hoeveelheid werkdae as die duur van die staking. Dit sal net regverdig wees.
Daar moet egter baie water in die see loop voor ek weer ‘n 35 dae-pas sal koop... Gautrein is onbetroubaar. Punt!
Soos dinge nou lyk was die Gautrein toe maar net ‘n nuwe besem wat vir ‘n rukkie skoon gevee het...
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.