‘Eskom, ruk julle reg!’
deur Dirk J. Coetzee
2012-02-01 07:41
Eskom se geheue is baie kort of hulle hoop dat die verbruikers in hierdie land nie goed kan onthou nie.
Die afgelope tyd hoor ons kort-kort dat 'n Eskom-woordvoerder ons maan om 10% krag te bespaar. En dan die bedekte dreigement... doen ons dit nie, wag daar probleme.
Ongelukkig vir Eskom is baie van sy verbruikers nog nie van lotjie getik nie. Vir hoeveel jare kom hierdie storie nou al aan? Kort ná die eeuwisseling het die ellende van kragonderbrekings op ons toegesak. En elke keer moes ons bespaar. Hoeveel keer het die arme verbruiker nou al 10% probeer bespaar?
Ag nee wat, Eskom. Julle probeer duidelik die fokus van julle onbeholpenheid na die verbruikers verskuif. Julle moet nou 'n slag ernstig word en hand in eie boesem steek.
Wek vertroue by Jan Publiek deur die geld wat in julle beursie beland uiters doeltreffend aan te wend... so dat dit gesien kan word.
Ook só dat 'n mens nie gedurig die dreigende swaard van beurtkrag bo jou kop gewaar nie. Hierdie swaard knou sakevertroue en dit knou werkskepping wat so noodsaaklik is.
Besparing kan en gaan nie die situasie aanhou red nie, want die besparingsplafon is 'n sentimeter bo ons koppe. Wat sake gaan regruk is skouer aan die opwekkingswiele en 'n kultuur van trots op die werk wat gelewer word.
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.