Hierdie is nie die regte tyd om daaroor te skryf nie. Nee, ons moet eers rou.
Oor ‘n week of twee, drie, dan skryf ons en niemand lees dit nie. Ek het die afgelope week snot en trane gehuil. Vanmiddag weer. Was toe sommer ook die m**r in.
Die realiteit is die volgende; ‘n Klomp jaar gelede het vriende van ons se een kind dieselfde oorgekom. Presies dieselfde. So paar jaar gelede het dit weer met ‘n kennis van ons se seun gebeur, ook op ‘n plaaspad. Altwee kinders dood. Per ongeluk, niemand kon dit voorspel nie.
So ‘n jaar gelede het een van die manne hier oorkant ons in die straat vriende oorgenooi om te kom toetsrugby kyk. Na die tyd gaan mos woes gebraai word. Wel ja, ek neem aan dat gedurende die wedstryd moes daar ook maar woes kalmte kom. (Dalk gekalmeer word?)
Ek stap toevallig na die wedstryd by die voordeur uit om tuin te gaan natspuit toe ek sien dat een ou trek met sy bakkie oorkant die straat weg met ‘n paar kinders agter op. Die bakkie was vir seker nie ‘n 1 400 nie, maar een van daai met die sterk V6-enjins wat die kop so lig as die petrol gegee word. Bullbar op en wat nog. Net chroom pype. Die enjin brul van lekkerte.
Die ou trek weg dat die wiele spin en die kinders gryp en klou. Ek hardloop in die pad in en beduie, vloek en skel. So ‘n tyd daarna toe kom die ou met die bakkie terug. Klim uit die bakkie en beduie vir my. Ek vra hom wat de hel sou hy gemaak het as ‘n kind afgeval en op sy kop beland het. Hy vertel my ek het niks uit te waaie met hom nie, hy is ‘n geregsdienaar en moet ek in die pad in kom dat ons die ding kan uitsorteer. Ek het die huis ingeloop en gehuil van magteloosheid.
Ons huil almal vandag van magteloosheid. Ongelukke gebeur. Niemand vra daarvoor nie. Ons troos mekaar. Môre gebeur dit weer en is dit weer ‘n ongeluk wat niemand kon voorsien nie.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.