Dis met groot moeite dat ek moet vasklou aan my mening dat die mens inherent goed is, veral as ek kyk na mense se reaksies op ander se pyn en leed (die berig, 9 Julie, en die reaksie daarop op publieke forums het betrekking).
Ons mense het 'n hongerte ontwikkel wat oënskynlik gestil word deur toeskouer en toesnouer in ander se hartseer omstandighede te speel.
Hoekom, medemens, is dit vir jou nodig om soveel stadiger te ry as jy by 'n ongelukstoneel verby ry? Jy doen dit beslis nie om veiligheidsredes nie, dan sou jou oë voor jou op die pad gemik gewees het en nie skrefiesgetrek op die wrakke gerig wees, besig om alles in te drink nie.
Hoekom, dors medemens, is dit vir jou nodig om jou te verlekker en met jou skerp, bloeddorstige tong deur seer harte te sny met jou sinnelose, onsensitiewe aanmerkings? Hoe kan jy jou verkwikking vind in 'n ouer se hartseer wat sy/ haar kind aan die dood afgestaan het?
Hoekom, honger medemens, het dit nodig geword om swak berriggewing te deurspek met sensasie om sodoende koerante te verkoop en jou brood, met botter, te verdien?
Die opskrif in Maandag se koerant alleen gee duidelik weer dat die leser nie 'n onpartydige berig gaan lees nie. Dit is 'n groot jammerte dat onverantwoordelike joernalistiek so hoogty vier.
Ek is geskok, verslae gelaat deur die aanmerkings in publieke forums in reaksie op Wynand Venter se dood. By nabetragting moes ek dit seker te wagte gewees het... ons leef in 'n samelewing waar haat en wraak swaarder weeg as liefde en vergewensgesindheid.
Ek bid dat die barbaarse hongeres wat so maklike klippe gooi genade sal ontvang vir die foute wat hulle gemaak het en nog sal maak. Ek hoop dat jy, honger-gestilde medemens, jou ongenaakbaarheid elders sal loop herkou. Spaar diegene, aan albei kante van hierdie hartseer tragedie, jou galbraak.
Dis genoeg om van te stik.
Word gepubliseer op MyNuus24 deur jou storie, brief of rubriek aan ons te stuur.
Stuur jou nuusfoto's
Neem kennis: Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van die Nuus24-gemeenskap. Die sienings van gebruikers wat op Nuus24 gepubliseer word verteenwoordig dus dié van die individue self, en is nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou ook die reg voor om enige kommentaar wat ontvang word te redigeer of af te keur.
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.