Op 22 Oktober is ‘n brief van my geplaas: “Is die Afrikaner ‘n bedreiging?”
Die volgende het tot hierdie voormelde brief van my aanleiding gegee en lig ek graag as volg toe:
In haar Rapport-blog die afgelope week skryf Cathy Kotzé dat sy 'n Afrikaner is en dat sy 'n Afrikaner sal doodgaan. Só is daar 'n paar miljoen van ons. Dan is daar diegene wat die Afrikaner verguis, wat elke nou en dan die motiewe van die werklike Afrikaner bevraagteken en hom in 'n swak lig stel.
Op 13 Februarie 2012 het Nuus24 'n brief van my geplaas: "Afrikaner se herkoms verbuig" waarin ek uitgelig het dat die Afrikaanse rubriekskrywers die Afrikaner se geskiedenis teen die vergrype van die huidige regering s'n afspeel om die ANC se vergrype sag op die oor te laat val. Natuurlik ook om die Afrikaner in 'n swak lig te stel. Propaganda? Op 13 Maart 2012 het Nuus24 'n skrywe van my geplaas: "Taal en kultuur: stelselmatig afgebreek".
Dawie skryf in sy rubriek in Die Burger van 15 September 2012: “Haal dié angel uit ‘Afrikaner’”.
Tim du Plessis skryf in sy rubriek in Rapport van 14 Oktober 2012: “Sonder die ou establishment”.
By die afgelope Aardklop-kunstefees debatteer Flip Buys en dr. Jackie Grobler wie van pres. Paul Kruger of genl. Koos de la Rey die grootste Afrikaner van alle tye was. Ook koerant-webblaaie vra dié vraag aan hul lesers.
In die week van 10 Oktober op RSG die oggend hier by halfagt, gesels Cobus Bester met gaste dr. Piet Croucamp en nog 'n persoon. Daarin betoog dr. Croucamp dat die Afrikaner nie meer bestaansreg het nie. Dat die Afrikaner-organisasies die land nie 'n guns doen nie. Stem Cobus Bester saam en vertel hy dat hy die vraag "Wat is 'n Afrikaner?" op sy webblad gevra het, dat daar soveel uiteenlopende antwoorde was dat daar nie werklik meer 'n Afrikaner is nie.
Die middag gesels Ian Wessels in sy program met inbellers om hul opinie te verneem van destydse groot leiers. Daarin vertel hy dat Piet Retief maar 'n obskure karakter was, blykbaar ook maar korrup. Dat Piet Retief in geldelike verknorsing was en dat dit die beweegrede was wat hom by die Groot Trek laat aansluit het.
So kan ons aangaan met die verdagmakery. Kalwe so elke nou en dan, ook sommer aanmekaar as die geleentheid hom voordoen, aan die geloofwaardigheid van die Afrikaner en sy verlede. Die groot oogmerk? Nie nodig om te raai nie.
Aan diegene hier bo wat nie 'n Afrikaner is nie, wil ek graag sê: "Los ons uit, ons het bestaansreg in die land en julle sal ons nie verhoed om Afrikaner te wees, om ekonomies aktief te wees en om die land wat ons lief het positief met bydraes en energie die toekoms te help ingaan nie."
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.