Hallo antie. Jy ken jou naam.
Ek sien jou en jou garde altyd laat in die kerk inkom, en voor gaan sit. Ek en my liewe vrou het begin bespiegel of dit nie aspris is nie, of miskien net toevallig, ek weet nie.
Na kerk, op pad na my kar toe steek ek gewoonlik ‘n rokie op. Dis dan wat sekere dinge gesê word oor die vieslike, vuil rokers. Nota aan leser: Ek gaan nie weer baklei oor rokery nie, lees aan.
Dit stop gewoonlik nie daar nie, want sien, ons moet wag totdat die sondagskool uitkom (ons moet darem bietjie brandstof probeer bespaar) voordat ons huis toe kan keer. In elk geval, soos ek besig was om te sê: Ek hou jou dop.
Dit klink meer skrikwekkend as wat dit is. Sien, ek het oë, en ore, ek kan hoor hoe jy mense beswadder en name noem en vinger wys met jou maters.
Dis OK, ek mag seker nie by die kerk rook nie, maar ek voel jy kan nie sulke dinge wat jy kwyt raak ook by die kerk doen nie.
Soos die noodlot dit eendag wou hê, word ek, my vrou en jy saam geskaar in die internet-kafee wat snags in ‘n dobbelhuisie ontaard. Kyk, ek het nie geld nie, maar ‘n R20 elke dan en wan verskaf my groot genot. Ja, dis seker hoekom ek nie geld het nie, lees aan.
Nou, die betrokke plekkie is in twee afdelings opgedeel: Rokers en Nie-Rokers. Ek rook, ek is nie skaam daarvoor nie, so heel vanselfsprekend het ons daar plek gesoek. So tien minute later stap jy in mevrou. Ek het my boeglam geskrik en gedog jy gaan die keer regtig die dominee op my sit! My vrou, wat gewoonlik nie bang is of terugstaan nie, was ook spierwit in die gesig!
Net die gedagte dat al die NG-ouderlinge, diakens en die dominee vir ons gaan probeer oorreed dat ons (ongelukkig) op ‘n verkeerde pad is met al ons gewoontetjies en klein sondetjies/ plesiertjies was skrikwekkend. Ek kry nou nog nagmerries net met dié gedagte!
Maar nee, jy het nie die brigade saam gebring nie, jy het nogal langs my kom sit!
Bewerig het ek maar die “Spin” knoppie al hoe vinniger begin druk, maar weereens, soos die noodlot dit wou gehad het, bly ek net “Free Spins” wen. Hierdie aand sou my gelukkige aand gewees het. Soos ek maar kyk hoe die “Free Spins” al hoe meer word (dit gebeur party keer) en na al die spanning van jou langs my, hunker ek tot in my diepste vir ‘n sigaretjie.
Ek loer vir my vrou (wat haar “Bets” al hoe hoër gemaak het net om klaar te kry- wat ook later sou uitvind dat die aand haar gelukkige aand sou word). Sy knik met ‘n skewe glimlaggie en hartseer oë – so asof dit die laaste keer sou wees wat sy my sou sien.
Ek besluit toe: ek is nie ‘n muis nie! Ek gryp narstigtelik na my sigaretpakkie en aansteker (oftwel “lighter” in die regte kringe) en steek my rokie aan.
“Skies tog man,” hoor ek die stem van regs.
Ek maak eers of ek jou nie hoor nie. As jy links van my gesit het, sou jy my half-dowe oor beet gehad het.
“Ja.” Kom my stem sterk deur terwyl ek binne-in bewe en reg maak om te vlug.
“Wat rook jy?”
“Princeton, blou Princeton”
“Dis nou ‘n toeval!” sê jy vir my opgewonde
Ek kon myself nie help nie en vra: “Hoekom?”
“Wel, ek het my pakkie Dunhill in die kar vergeet, maar geniet ook so af en toe ‘n Printon’tjie”
Interresant sê ek vir myself en begin twyfel of ek die regte antie beet het.
So sjarmant soos wat ek kan wees, gee ek sommer vir haar twee en los my aansteker tussen ons op die tafel. Dit was lekker om saam met jou ‘n asbak ook te kon deel.
My adrenalien het bedaar en ek het weer 15 “Free Spins” gekry.
So het die aand aangegaan, dit was seker nou al ‘n driekwart-uur wat ek en my vrou gespeel het met ons gesamentlike skamele ou R40’tjies. Sien, ek kan nie tien keer soveel elke nou en dan kom wegspeel nie, soos jy nie.
‘n Geselsie hier “Ja ons is in dieselfde kerk” en ‘n geselsie daar “Ja, dis ons ou grys tjorretjie wat altyd daar sit en wag”.
Ek het later begin loer vir ‘n weggesteekte mikroofoontjie en of jou selfoon my besig was om af te neem, vir bewyse…
Nog ‘n halfuur later, lank laas ‘n “Free Spin” gekry, maar dit was orraait.
Alles het heel goed verloop, totdat….
Een van die dames wat anderskleurig was per ongeluk koeldrank op jou gemors het (onthou jy). Soos ek kon sien was dit nie juis veel nie, maar in elk geval ek los dit daar – dit was nie my duur klere wat verniel geword het nie, of wat was daardie ander woord wat antie gebruik het opge-Beep?
Na ‘n paar vernielsugtige woorde en amper ‘n vuisgeveg het ek maar besluit om (hoe se hulle in die dobbelhuise?) uit-te-cash.
Ek het nogsteeds my R20 gehad plus R1.50, en my vrou het ‘n stewig wins gemaak, sy het R22.50 uit-ge-cash. Lekker ne?
Nou, ek weet nie wat die res van die aand gebeur het nie, ek hoop jy en die ander dame is OK. Maar ek wil net weet: Hoekom was ek nie laas Sondag gegroet nie? Hoekom was jou vingertjie weer op my gemik terwyl mense hul kop skud?
Ek dog dan ons is vrinne! Ons beweeg tog in dieselfde kringe!
Of, was dit omdat ek R4 gewen het, en jy niks?
Alle artikels en briewe wat op MyNuus24 gepubliseer word is geskryf deur onafhanklike lede van Nuus24 se gebruikersgemeenskap. Die opinies van lesers wat in hierdie afdeling gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die siening van Nuus24 nie. Nuus24 se redakteurs behou die reg voor om enige of alle kommentaar op berigte te verwyder.